Ons volgende byeenkoms sal wees op Sondag 14 Augustus weer by R@M Bowls Club, Retire @ Midstream se Rolbal Klubhuis, Madeleinestraat 1, Midstream Estate.  GPS: -25.922, 28.191.

Tyd: 09:30 vir 10:00

Ons het weer die gebruiklike tee/koffie vooraf.  Om 10:00 kom ons spreker van die dag aan die woord, en daarna is dit ons gebruiklike bring-en-eet saam vir almal wat belang stel om nog te kuier.  Bring soos gewoonlik iets vir die gesamentlike tafel om te eet, asook jou eetgerei en drank.

Ons spreker is ʼn ou bekende by die NHN:   Prof François Durand

Titel:   Klank van Stilte

Die groep Simon & Garfunkel se lied “Sounds of Silence” is in 1964 vrygestel.  Dit gaan oor die sosiale dissassosiasie wat met die verlies van kommunikasie gepaard gaan waar mense hoor maar nie luister nie, praat maar nie kommunikeer nie.  Hierdie wêreld word regeer deur die Neon-god wat hulle gemaak het, en voor wie hulle dienswilling neerbuig om te aanbid.  Simon & Gafunkel se lied is inderdaad soos die grafitti van die profete wat op die mure geskryf is, want vandag is die waarheid van hulle woorde nog meer relevant as in die 60’s.  Wêreldwyd kry miljoene leerders matriek en derduisende studente grade, maar terselfdertyd is daar ongekende werkloosheid.  Dit lyk vir my asof daar ʼn indirek gelyke verhouding is tussen die hoeveelheid skermtyd waaraan kinders blootgestel word en hulle geletterdheidsvlak. Dat die ervaring van die skryf van duisende SMSS’e, ten spyte van “auto-correct”, nie vir jongmense help om ʼn CV te skryf nie.  Dat die vermoë om Google te gebruik, die vermoë om te leer, negeer.  Dat die hoeveelheid vriende wat mense op Facebook het, ʼn parameter is van hoe min vlees en bloed vriende hulle het en dat ten spyte, of dalk weens, al ons hulpbronne, die moderne mens ʼn nuwe laagtepunt in sosiale disassosiasie bereik het.

 

  • Die volgende byeenkoms is op 11 September.  Die spreker is Nico van der Dussen, en die onderwerp is “A Democratic Growth Enabler” – die sleutel tot die uitwissing van ongelykheid en kriminele armoede in Suid-Afrika?
  • Verjaardae:

Dirk Heyns – 13 Julie

Phil Steyn – 22 Augustus

Gerrit Genis – 27 Augustus

Mag ʼn voorspoedige en vreugdevolle lewensjaar vir julle voorlê.

  • Stuur asseblief julle verjaardagdatums aan Johan Talma [083 5568711] as julle wil.  Ons wil graag so volledig ʼn lys as moontlik hê.

 

By ons vorige byeenkoms was die spreker dr Eugene Fourie. Eugene is ʼn medikus met ʼn M.Med (Patologie) graad in infeksiesiektes. Hy het vir baie jare as patoloog gepraktiseer en het sy loopbaan afgesluit as ʼn besturende patoloog by Ampath.  Hy het ook ʼn MBL vewerf.

Eugene het ons ʼn kykie gegee in die wêreld van virusse: hoe virusse lyk, hoe dit infeksies veroorsaak, en toe gepraat oor Covid, die siekte wat deur die SARS-CoV2 coronavirus veroorsaak word, en wat die wêreld soos ʼn donderslag uit die bloute teen einde 2019 getref het. Die mediese wetenskap, regerings, internasionale organisasies en ook gewone burgers was totaal onvoorbereid op die pandemie. Die noodmaatreëls wat die owerhede moes tref teen ʼn moontlike katastrofe was ongehoord in die moderne tyd.

Die Covid entstof wat ontwikkel is, is in der waarheid ʼn triomf vir die mediese wetenskap. Dit is ontwikkel en beskikbaar gestel in minder as ʼn jaar – iets wat baie skeptici nie verstaan nie. Dit is verderaan ook die eerste entstof wat gebruik maak van ʼn nuwe tegnologie, nl om mRNA te gebruik in plaas van die virus self, of ʼn verwakte weergawe van die virus – nog iets wat die skeptici onstel het.

Eugene het verduidelik dat daar drie faktore was wat dit moontlik gemaak het:

  • Nog nooit tevore is soveel geld in so ʼn kort tyd beskikbaar gestel vir die navorsing en die implentering van ʼn nuwe entstof nie. Letterlik miljarde dollars en euros is gespandeer binne ʼn paar maande, en die meeste van daardie geld het gekom vanuit die VSA en die Europese Unie. Die hele wêreld het op die ou end baat gevind by finansiering wat gekom het uit die sakke van die Amerikaanse en Europese belastingbetalers, en ook van enkele filantropiese organisasies.

 

  • Dit was nie nodig om heel onder te begin met die ontwikkeling van die nuwe tipe inenting nie, omdat daar vir 10 jaar al navorsing gedoen is om ʼn mRNA entstof te ontwikkel. So ʼn entstof is ontwikkel teen die Zika-virus, maar dit is op die ou end nie vrygestel nie omdat die uitbraak van die siekte op ander maniere bekamp is. Ons was egter gelukkig dat daar toe baie kundigheid beskikbaar was oor hoe om mRNA in ʼn entstof te vervaardig en aan te wend. Om oor te skakel van Zika na Covid was toe ʼn relatief eenvoudige stap. In Eugene se woorde: “Dit is soos om op die laaste minuut te besluit jy bak nou ʼn sjokoladekoek en nie ʼn vanillakoek nie”.

 

  • Die kundigheid om dit finaal te ontwikkel was teenwoordig in ʼn aantal akademiese en ander instellings, en die kapasiteit om dit te implementeer was teenwoordig in die vorm van die famaseutiese maatskappye. Die aanvanklike stukrag aan die projek is verleen deur die reeds genoemde grootskaalse finansiële inspuitings, en daarna het Adam Smith se “onsigbare hand in die ekonomie” gesorg dat instellings saamgewerk het, dat tegnologie oorgedra is, en dat vervaardigingskapasiteit gevestig raak om die entstof op groot skaal te vervaardig.

 

Hier langsaan is ʼn voorstelling van hoe die mRNA entstof lyk – ʼn werklike meesterstuk in mikrobiologiese molekulêre ingenieurswese. Dit bestaan uit ʼn nano-lipiedpartikel wat opname in selle moontlik maak en die mRNA daarbinne teen afbraak beskerm. Die mRNA nukleiensuurketting, wat die sintese van virus proteiene in ʼn mens aan die gang sit, is in die middel. Die mRNA aktiveer die immuunstelsel op dieselfde wyse as wat die stekels buite-om die Covid virus doen.  As mRNA egter net so kaal toegedien sou word sal dit die persoon siek maak, omdat natuurlike immuniteit heftig teen RNA reageer; daarom word dit omring met ʼn beskermende sintetiese vetlagie.

 

Na raming, uit statistiek wat vanaf bloedskenkers gekry is, het 93% van Suid-Afrikaners teenliggaampies teen SARS-CoV2, óf deur inentings, óf deur kontak met geïnfekteerde persone. Ons is baie gelukkig dar die huidige Omicron variant minder hospitalisasies en sterftes veroorsaak. Dit, saam met tropimmuniteit, veroorsaak dat die lewe na meer normaal kan terugkeer. Mens moet egter nooit oorgerus te wees nie. Die pandemie is nog nie verby nie, en indien – of wanneer – daar ʼn nuwe variant sou uitbreek waarteen ons nie bestand is nie en wat meer virulent is, kan dinge oornag verander.

 

NHN-groete

 

Johan Brink