Ons volgende byeenkoms:
Datum: Sondag 20 Augustus
Plek: Rolbal Klubhuis, Retire @ Midstream, Madeleinestraat 1, Midstream Estate. GPS: ‑25.922, 28.191.
Tyd: 09:30 vir 10:00. Die gebruiklike tee en koffie is vooraf beskikbaar.
Vandag se spreker is prof. Pieter Botha. Sy onderwerp is: “Wat is die waarheid? ’n Ontmoeting met die Montaniste laat mens wonder…”.
’n Bespreking van die godsdienstige beweging wat deel was van die Romeinse Mediterreense wêreld. As ʼn geloofstradisie was die Montanisme op ’n stadium net so verspreid en gewild as “tradisionele” Christendom — dit is nou totdat die Ortodokses besluit het om met hulle klaar te speel. Die opkoms en sukses van die beweging, maar veral die konteks daarvan, sal onder die loep geneem word; onder meer die onlangse ontdekking en opgrawings van hulle “hoofstad”. Soos ander historiese verkennings, is die bedoeling om nie net meer inligting te bekom nie, maar ook om te besin oor wie skryf die geskiedenis en dus wie sê wat is “waarheid”.
Soos gebruiklik is almal genooi om daarna nog te bly. Elkeen bring iets om te drink en iets om te eet en ons kuier nog verder.
Lesing op 23 Julie:
Die spreker was Izak Geldenhuys, en sy onderwerp was: “Die lewensveranderende impak van ’n motorfietsongeluk in 2008”. Hy was ʼn regsgeleerde – aanvanklik ʼn prokureur en toe later ʼn lid van die Pretoriase Balie, en sy groot tydverdryf was om lang motorfietsritte te onderneem. Gedurende so ʼn reis met ʼn groep op tot in Tanzanië het hy in ʼn baie erge ongeluk beland wat sy een been grusaam beseer het. Nadat hy ingevlieg is na Pretoria was dit die begin van ʼn langdurige behandeling- en rehabilitasie proses. Dit was indrukwekkend om by hom te verneem watter tegnologie die mediese wetenskap deesdae tot hulle beskikking het om erge beserings soos syne te kan behandel.
Dié insident het ʼn verandering in sy lewe gepresipiteer. Hy het die regsberoep verlaat en kuns gaan studeer by die TUT, en hy was aangewys as die beste kunsstudent in 2011. Een van sy vroeë kunswerke is hier naasaan.
Dan het hy verder Sepedi [“Noord-Sotho”] bestudeer. Hy is die skrywer van ʼn Sepedi-handboek wat in 2014 uitgegee is en hy bied nou kursusse aan in dié taal.
Komende verjaardae:
Phil Steyn 22 Augustus
Gerrit Genis 27 Augustus
Mollie Kruger 01 September
Alida vd Westhuizen 10 September
Martie vd Merwe 10 September
Marie Budricks 14 September
Jaco Budricks 16 September
André Reitmann 28 September
NHN-groete
Johan Brink