- “Eerste” NHN byeenkoms 23 Januarie 2022 te Midstream
Wat ʼn heuglike dag was dit om na die lang inperking sedert Februarie 2020 weer ʼn NHN-byeenkoms te kon hou. 25 Entoesiastiese lede het by die klubhuis van die Midstream Aftree-Oord se rolbalklub ontmoet en van 10:00 tot ongeveer 15:00 was daar gesels, besluite geneem en gekuier.
Sake wat bespreek is: Beplanning vir 2022, ʼn Ander venue en Saamkuier-etes.
Beplanning
- Datums: Daar is besluit om voorlopig een maal per maand byeen te kom. (Sien onder 2022 kalender aangeheg.)
- Byeenkomste:
Soos in die verlede sal lesings aangebied word met besprekings agterna. Sakkie Spangenberg sal weer gevra word om die verkryging van sprekers te hanteer, asook ander relevante reëlings .
Die lesing: “mRNA; ontwikkeling, aanwending en impak op ons gesondheid in die toekoms” is reeds gefinaliseer. Ander aanbiedings en moontlike sprekers wat voorgestel is, is: Evolusie met verwysing dat die mens ʼn gewone spesie, Lyftaal en Praattaal, Oorsprong van Lewe, Die huidige politieke bestel (moontlike sprekers: Piet Croucamp, Anthonie van Nieuwkerk, J J Thabane), Bestaande Youtube lesings met bespreking daarvann en die fyn lyn tussen beskawing en chaos, soos onlangs geblyk uit die Julie-opstande in Natal. Jan Horn en Pieter Botha sal ook elk minstens een aanbieding maak.
Oor die kwessie van Covid en ander pandemies het Pieter Botha genoem dat die ontwikkeling van die Christendom as spirituele fenomeen, ook sterk deur plae en hongersnood beïnvloed is. Hierop het Driekie voorgestel dat ons lede elk iets oor pandemies uit die geskiedenis vir bespreking aanbied. Voortvloeiend kan aandag geskenk word oor hoe pandemies samelewings kan verander, asook hoe ons as individue verander het.
- ʼn Ander venue
Instede van die Midrand ouditorium het ons in die rolbal klubhuis van Midstream Aftree-Oord byeengekom. Almal was hiermee ingenome en daarmee eens dat dit ʼn goeie alternatief is. Die klubhuis is sentraal geleë én die huurtarief is aansienlik laer as dié van die Midrand ouditorium.
Kommunikasie met en tussen ons lede:
- Na afloop van elke byeenkoms sal daar geleentheid wees om op ons tradisionele bring-en-saameet-wyse te kuier.
- Ons nuusbrief sal van nou af deur Johan Brink hanteer word.
- Ons Facebook blad sal steeds NHN inligting voorsien.
- Ons Whatsapp groep “NHN Klets” is daagliks baie aktief. Indien iemand hierby wil aansluit, kontak Johan Talma by 083 556 8711.
- Volgende Byeenkoms
Ons volgende byeenkoms is op 27 Februarie, weer by die nuwe venue. Ons hou dan ons jaarvergadering waartydens ʼn nuwe komitee gekies sal word. Die agenda vir die vergadering sal vooraf voorsien word. Jan Horn sal ons dan ook bekendstel aan een van die interessante films wat hy al as opdrag gemaak het.
- Poslys
Hierdie nuusbrief is aan adresse op ons huidige poslys gestuur. Indien jy van iemand weet wat nie hierdie nuusbrief ontvang het nie maar wel wil, stuur asb die persoon se besonderhede na johanbrink@lantic.net
- Ledegelde/ Rekeningnommer
Om ons aktiwiteite weer aan die gang te kry, maar met die huidige tydsgreep in gedagte, is ledegelde vir vanjaar nou betaalbaar. Dit is steeds R400 vir ʼn enkellid en R500 vir ʼn gesin. Die rekeningbesonderhede is:
Nuwe Hervorming Netwerk
Nedbank: 1621207811
Tak: Pretoria-Noord
Lopende rekening
- 2022 Kalender
Die kalender is hierby aangeheg.
NHN-groete
Johan Brink