Ons volgende byeenkoms sal plaasvind op Sondag 12 Maart by die Rolbal Klubhuis, Retire @ Midstream, Madeleinestraat 1, Midstream Estate.  GPS: ‑25.922, 28.191.   Die tyd is 09:30 vir 10:00, en daar is die gewone tee en koffie beskikbaar vooraf.

Ons spreker is Marietjie van Loggerenberg, en sy praat oor die onderwerp: “Oor menslike seksualiteit en genderidentiteit: LGBTQIA+“

Die afkorting LGBTQIA+ staan vir Lesbies, Gay, Biseksueel, Transgender, Queer (of “Questioning”), Aseksueel, en nog meer. Die terme word gebruik om na ‘n persoon se seksuele oriëntasie en/of genderidentiteit te verwys. Daar bestaan heelwat misverstande rondom mense se seksuele oriëntasie en genderidentiteit. Dis nie asof mense kies of hulle heteroseksueel of homoseksueel wil wees nie. Ook nie oor hoe hulle hulle eie liggame beleef nie. Babas word soms met misvormde genitalieë gebore en dan is dit nie duidelik of sodanige baba manlik of vroulik is nie. Dis ook bekend dat babas met manlike geslagsorgane of vroulike geslagsorgane gebore word, maar hulleself in later jare nie as manlik of vroulik beleef nie. Dit voel vir sodanige mense dat hulle liggame en hulle seksuele oriëntasie glad nie in harmonie is nie. Die moderne mediese wetenskap help ons om menslike seksualiteit en genderidentiteit beter te verstaan – veral omdat seksualiteit en gender nie een en dieselfde ding is nie. Wat tydens swangerskap in die baarmoeder gebeur, het ‘n invloed op mense en daarvoor moet ons begrip kweek.

Marietjie tree al jare op as berader vir mense wat met hulle seksualiteit en genderidentiteit worstel. Haar lesing gaan lig op hierdie moeilike onderwerp werp.  

Daarna is almal genooi om nog te bly.  Elkeen bring iets om te drink en iets om te eet en ons kuier nog verder.

Verjaardae in Maart:

Laage Vitus                    01-Mar

Jeanette Horn               04-Mar

Pieter Botha                  12-Mar

Babs Basson                  21-Mar

Lucy Nel                          22-Mar

Hennie le Roux             25-Mar

 

NHN-Ledegeld vir 2023:

Die bedrag is R400 per persoon, of R500 per gesin. 

Die bankbesonderhede is:

Bank:                                           Nedbank

Tak:                                              Wonderpark  – dit was tevore Pretoria-Noord

Takkode vir EFT betalings:   198765

Rekeninghouer:                       Die Nuwe Hervorming Netwerk

Rekeningnommer:                  1621207811

Tipe rekening:                          Lopend

 

Die ledegeld word aangewend vir: Huur van die perseel; honorarium vir die sprekers; die maak van video’s; verversings; die webblad; die seminaar (hierdie jaar) en bankkostes.

Gesamentlike seminaar: Renaissance, SES en NHN:

Saterdag 20 Mei bied die NHN in samewerking met die Renaissance gemeenskap en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit ‘n seminaar aan met die tema “Leef met wete en twyfel en oortuiging.” Drie sprekers sal die onderwerp ontleed en bespreek. Daar sal genoegsaam tyd vir deelname, vrae en bespreking wees. Dit sal gehou word in die gemeenskap saal van die GEM-Aftree-oord (net oos van die Jan Smuts-huis) in Irene van 09:00-15:00.

Ons sal binnekort meer inligting oor die koste en besprekings vooraf deurgee.

Vorige byeenkoms: prof Pieter Labuschagne: Walus en Tsafendas: Wanneer is straf blote weerwraak?.

Daar is twee dikwels botsende opvattings rondom die uitdien van ʼn vonnis na ʼn ernstige kriminele oortreding:

  • Die konsep van absolute wraak teenoor die gevonnisde aan die hand van die misdaad.
  • Die konsep van “genoeg straf is genoeg” aan die hand van faktore soos tyd uitgedien, berou aan die hand van die gevonnisde, rehabilitasie, en moontlik “vergewing”.

Die kompleksiteit van die saak is geïllustreer aan die hand van die onlangse geval van Januzs Walus.  Die Hoofregter het beslis dat hy op parool vrygelaat moet word wat ʼn baie sterk bewoorde reaksie uitgelok het aan die kant van Chris Hani se weduwee.

 

NHN-groete

Johan Brink