Die NHN, in samewerking met die Renaissance Gemeenskap en die Sentrum vir eietydse Spiritualiteit, hou op 20 Mei ʼn dag-seminaar met die tema “Leef met wete en twyfel en oortuiging”.

Die tema beklemtoon dat elkeen van ons met sekere oortuigings leef. Ons weet sekere goed en dit help ons om ons lewens sinvol in te rig en ons lewensbootjie koers en rigting te laat hou. Maar dit is ook so dat ons gedurende ons leeftyd met nuwere inligting in aanraking kom wat ons aan die dink sit en laat twyfel. Die nuwere inligting kan die pilare van ons vroeëre oortuiging skud en van ons vra om te herbesin oor ons wete.

Omdat ons as mense nie net liggaamlik groei en ouer word nie, maar ook intellektueel en spiritueel, is dit onafwendbaar dat ons oortuigings oor die jare sal verander. Hierdie feit is baie mooi verwoord deur Carl Jung (1875-1961), die bekende Switserse sielkundige:

Thoroughly unprepared, we take the step into the afternoon of life. Worse still, we take this step with the false presupposition that our truths and our ideals will serve us as hitherto. But we cannot live the afternoon of life according to the program of life’s morning, for what was great in the morning will be little at evening and what in the morning was true, at evening will have become a lie.

Twyfel is goed, want dit vra van ons om te herbesin oor dit wat ons weet of dit waarvan ons seker is. Dit is goed dat ons ons lewenskompas van tyd tot tyd kalibreer en onsself afvra of ons oortuiging(s) ons in die regte rigting stuur. Die oogmerk van hierdie seminaar is juis dit.

Drie sprekers, prof Piet Croucamp, prof Marius Herhold en Barend la Grange, sal elk die tema vanuit hulle unieke perspektief belig. Die seminaargangers sal telkens na ʼn voordrag deur ʼn spreker geleentheid kry om deel te neem. Daar sal ook aan die einde van die seminaar geleentheid gegee word vir verdere bespreking.

–  Sakkie Spangenberg

Hier is die opsommings van die drie sprekers se bydraes:

Barend la Grange

Leef met wete en twyfel en oortuiging: My reis

Alhoewel Johny Cash se liedjie “There are more questions than answers” vir my baie mooi en gewild was toe dit in 1972 vrygestel is, het die woorde op daardie stadium nie soveel betekenis vir my ingehou nie. Ek was toe 19 jaar oud. Nogal vas oortuig ek het die meeste antwoorde al gekry. In ʼn stabiele konserwatiewe huis grootgeword met ʼn pa en ma wat duidelike riglyne neergelê het. Die tradisionele Christelike grondslag was gelê en die politieke oortuiging was dié van die regering van die dag en dit was stewig vasgelê in my gemoed. Die fondasie was gelê en ek was reg om daarop voort te bou. So het ek gedink.

Tog het die woorde my daarna konstant oor ʼn tydperk van 50 jaar gevolg. Dit lui só:

“There are more questions than answers

Pictures in my mind that will not show

There are more questions than answers

And the more I find out the less I know

I’ve asked the question time and time again

Why is there so little love among men

But what is life, how do we live

What should we take and how much should we give….”

Só het my reis dan ook verloop van min weet, baie twyfel. Die vrae het nie opgehou nie en die antwoorde (selfs vanaf die wat as die “geringstes” beskou word) het my soveel keer laat rigting aanpas … en dan het ek met oortuiging probeer leef.

Prof Piet Croucamp

Femelpraatjies met God: Ek verseg (om te twyfel), weet baie, maar is nie oortuig nie.

Kom ek wees eerlik, twyfel is waarskynlik menslik, maar dit is ʼn enorme mors van tyd. Twyfel is verwant aan onseker wees; ook ʼn menslike swakheid. Maar, soos twyfel, inhibeer onseker-wees jou vermoë om weg te staan van die berg, en die kompleksiteit van die werklikheid/realiteit te soek of sien. Twyfel en onseker-wees is moedelose disposisies wat teer op skaars emosionele energie. Twyfel is die skuilplek van vooruitsigloosheid.

Die skeptiese frontale lob vind geen behae in die onsekerheid wat twyfel bring nie. Om skepties te wees, is om in selfvertroue níé te weet nie. Nuuskierige selfvertroue het die spontane onbrandingsmateriaal van die skeptiese disposisie nodig in die soeke na ʼn ewig-ontwykende werklikheid/realiteit. Dit was I.L. de Villiers wat in ʼn oomblik van toevallige ‘wysheid’ gesê het:

“Mense wat bewyse vra, kry gewoonlik nooit genoeg nie. God weet dit, daarom vra hy ons om in geloof te wandel.”

Nuuskierigheid is ʼn gruwel in die oë van die Here jou God. Om aan die wrewel van God te ontkom, soek ek my heil in skeptisisme.

Prof Marius Herholdt

Wete, twyfel en oortuiging as windrigtings van die welwees-kompas.

Die invalshoek van hierdie praatjie is iets wat ons almal op grondvlak raak, naamlik welwees (“wellbeing”). Ons totale welstand, as geïntegreerde heelheid, is die verstek (“default”) status van menslike bestaan. Greg Anderson stel dit verhelderend as hy sê:

“Wellness is the complete integration of body, mind and spirit – the realization that everything we do, think, feel and believe has an effect on our state of wellbeing.”

Dit is gevolglik voordelig om ʼn positiewe belewenis te geniet van die totaliteit van wat ons dink, glo, voel en doen. Hierdie aspekte speel uit in die drie momente van wete, twyfel en oortuiging. Dikwels staan die pole van wete en twyfel in ʼn wisselwerkende dialektiek (afwisseling) wat kan spiraal na groter oortuiging.

Dit baat ons dus om in meer diepte te besin oor die polariteite van ons bestaan as sinsoekende wesens en hoe ons die spanning daarvan kan oorbrug ten einde ʼn blik te mag verkry op die groter prentjie van die lewe.

Nadat die teenwoordiges na hierdie aanbieding geluister het, sal hy/sy in staat wees om te kan verduidelik waarom denke, gevoel en oortuiging dikwels in spanning en selfs konflik met mekaar staan, en hoe om hierdie spanning te benut vir ʼn meer ingeligte en deurdagte wete asook die potensiële belewenis van groter welstand.

Verjaardae in Mei:

Sarette Genis                       3 April

Christo van der Merwe     7 Mei

Aret le Roux                         22 Mei

 

Nog ʼn herinnering: ledegeld vir 2023 is betaalbaar:

Die bedrag is R400 per persoon, of R500 per gesin.

Die bankbesonderhede is:

Bank:                                                     Nedbank

Tak:                                                        Wonderpark  – dit was tevore Pretoria-Noord

Takkode vir EFT betalings:             198765

Rekeninghouer:                                 Die Nuwe Hervorming Netwerk

Rekeningnommer:                            1621207811

Tipe rekening:                                    Lopend

Die ledegeld word aangewend vir: huur van die perseel; honorarium vir die sprekers; die maak van video’s; verversings; die webblad; die seminaar (hierdie jaar) en bankkostes.

 

Volgende byeenkoms by Midstream: Sondag 25 Junie

NHN-groete

Johan Brink


 

Lesing deur Johann Basson op 16 April: Opsomming

WÊRELDBEVOLKING, INNOVERING EN MENSLIKE VOORUITGANG OP ONS BEPERKTE PLANEET

 

In November verlede jaar het die Verenigde Nasies aangekondig dat die wêreldbevolking 8 miljard mense oorskry het. Hierdie is ʼn saak wat baie mense intens bekommer aangesien hulle dink dat die aarde se hulpbonne nie so baie mense kan ondersteun nie. Die hokkiestokgrafiek hierna oor 12 000 jaar toon dat die wêreldbevolking stadig gegroei het tot ongeveer 1500 en toe ontplof het. Die regterdeel van die kurwe lyk onheilspellend indien dit vorentoe geprojekteer word.

Onlangse boeke met goeie nuus.

Ek moniteer al ʼn paar jaar daardie boeke met ʼn positiewe globale boodskap. My lys vanaf 2010 wat ek by die lesing gemeld het en as voorbeeldboeke op my Kindle afgelaai het, behels 16 titels, waavan twee nuwes van Suid Afrikaanse oorsprong is (Johan Fourie). Hulle toon dat die wêreld so die laaste 200 jaar ʼn baie beter plek geword het.

Vorige distopiese nuus.

Tog kom baie prominente waarskuwings van spesieke individue oor die gevare van oorbevolking met gevolglike hulpbronuitputting en hongersnood. Die eerste was die van Eerw Thomas Malthus in sy “An essay on the Principle of Population” in 1798. Hy voorpel dat met meer hulpbronne die bevolking meer sal toeneem as die mens se vermoë om kos te produseer. Hy argumenteer dat tensy, die groei van die menslike bevolking beheer word, die mens bestem is tot armoede en hongersnood.

Die bioloog Paul Ehrlich (1932-2015) van die Stanford Universiteit publiseer “The Population Bomb” in 1968. Dit was ʼn topverkoper van meer as 3 miljoen eksemplare. Hy meld “The battle to feed all of humanity is over … In the 1970’s the world will undergo famines—hundreds of millions of people will starve to death in spite of any crash programs. What to do about it? Coercion? Perhaps, but coercion in a good cause.” Hy stel ʼn Federale Buro vir Bevolking en Omgewing voor gefinansier deur ʼn federale belasting op speelgoed, bababeddens en doeke om mense te straf wat kinders wil hê. Daar is talle ander “kenners” wat oor die jare dieselfde boodskap versprei het en ek het al in NHN kringe die tipe van siening gehoor.

Hierdie siening het in die praktyk met groot trauma in Indië in die 70’s afgespeel weens geforseerde sterilisasie en China van 1980 tot 2015 met hul eenkind beleid. Die implimentering was drakonies en het gelei tot talle aborsies, vermoor van babas of die weggooi deur hul families. Voorkeur is aan seuns gegee en ʼn piek van 121 seuns per 100 meisies het in 2008 voorgekom.

Negatiewe nuus.

Die mens het evolusionêr ontwikkel om aan negatiewe nuus voorkeur te gee. Dit is ʼn funksie van hoe ons brein funksioneer en die omgewing waarin ons leef. Negatiewe nuus trek aandag en voorsien inkomste aan mediamaatskappye. Dieselfde geld vir apokalistiese sienings (veral uit ʼn godsdienshoek), rolprente, boeke en veral deedae sosiale media.

Ehrlich – Simon weddenskap.

Julian Simon (1932 tot 1998) van die Universiteit van Maryland was ʼn polimat en sy hoof belangstelling was die ekonomiese invloed van die verandering van bevolking. Hy het talle boeke oor die saak geskryf. Hy en Ehrlich was in ʼn fel intellektuele stryd oor bevolkingsgroei gewikkel. Dit het gelei tot ʼn weddenskap van $1000 waar die prysbeweging van vyf metale, wat Ehrlich kon nomineer, oor 10 jaar gemoniteer sou word. Die vyf was chroom, koper, nickel, tin en wolfram. Die gemiddelde reële prys het in die periode met 34% gedaal wat daarop dui dat terwyl die wêreldbevolking met 800 miljoen gestyg het die beskikbaarheid van hierdie metale toegeneem het.

Waarom neem pryse af.

Dit is as gevolg van die werking van die mark (groter aanbod as vraag), die groei van demokrasie, ontwikkelings vanaf die Nywerheidsrevolusie en nuwe produkte en prosesse. ʼn Voorbeeld is die slim selfoon wat tans deur 66% van die wêreldbevolking gebruik word en meer as vyftien afsonderlike funksies vervang. Die gebruik van materiale verminder met ʼn faktor van 300 en energieverbruik met 100.

Die mark is ʼn proses of meganisme vir die versamel en uitruil van inligting. Die individuele besluite van miljarde kopers en verkopers voorsien nuttige kennis vir die relatiewe werking van die ekonomie. Dit is baie anders in ʼn beplande ekonomie waar pryse deur burokrate en die burokrasie vasgestel word. Dit is waarom markekonomieë sonder uitsondering op die lang termyn ryker as beplande ekonomieë word. Kompetisie verseker dat pryse die beste oordeel (of kennis) van alle betrokkenes op daardie tydstip reflekteer.

Verlede jaar publiseer Drs Marion Tupy en Gale Pooley hul boek “Superabundance: The Story of Population Growth, Innovation, and Human Flourishing on an Infinitely Bountiful Planet” waar hulle die effek van bevolkingsgroei en die gebruik van hulpbronne in diepte ontleed. Hul gebruik ʼn groot aantal statistiese analises van die prysbeweging van ʼn hele reeks produkte.

Tyd-prys.

Adam Smith, die vader van moderne ekonomiese denke skryf in sy epog “The Wealth of nations” in 1776 “The real price of everything…is the toil and trouble of acquiring it…What is bought with money or with goods is purchased by labour.” Simon het begin om oorvloed met tyd-pryse te meet. Tyd-prys (TP) is die hoeveelheid tyd wat die koper nodig het om te werk om genoeg te verdien om iets te koop. Dit is die geldprys gedeel deur die uurlikse inkomste. Welvaart en verandering in welvaart moet dus in tyd gemeet word en nie in geldwaarde nie. Inkomste neig ook om vinniger as inflasie toe te neem soos die mens se produktiwiteit toeneem. Geldpryse word in dollar en sent gemeet, TP word in ure en minute gemeet. TP= Nominale prys gedeel deur die nominale uurlikse inkomste. Byvoorbeeld TP= koste van ʼn item van $1 gedeel deur $10 per uur wat die persoon verdien = 0.1 uur= 6 minute van sy tyd. TP gebruik nominale prys en nominale inkomste by elke punt in tyd, geen inflasie aanpassing is nodig nie. Indien die persentasie verandering van TP oor tyd bereken word word dit as PCTP (percentage change of time price) getoon.

Tupy en Pooley se studie is dataryk en hulle het gebruik gemaak van omvangryke beskikbare databronne wat insluit ekonomiese data van die Wereldbank, ure gewerk in 42 lande vanaf die Conference Board, pryse van 50 basiese kommoditeite oor ʼn tydperk van 38 jaar en 37 kommoditeite oor 58 jaar. VSA prystendense vir 42 voedselitems, 35 verbruikersgoedere, ʼn Ford F100 bakkie en huishoudelike lugreëling is ook ingesluit. Die resultaat kan as volg opgesom word al doen dit afbreuk aan die detailresultate wat gegee word:

 

Beskrywing Items in mandjie Jare PCTP, % PCTP, % per Jaar Geografie
Basiese kommoditeite 50  38 -71,6 -3,3 85% van wêreld
Basiese kommoditeite 37  58 -83,0 -3,0 75% van wêreld
Voedsel 42 168 -91,2 -1,4 VSA
Verbruikersgoedere 35  40 -72,3 -3,2 VSA
Ford F100 bakkie 1  49 -53,3 -1,5 VSA
Lugreëling, huiseenheid 1  67 -97,3 -5,2 VSA

 

Daar word gemeld dat die tipe analise ook gedoen behoort te word vir dienste en eiendom wat ʼn groot deel van die ekonomie uitmaak, maar dat sinvolle data moeilik verkrygbaar is. Resultate word deurgevoer na die land betrokke, produk en jaar en ook ander variante van die PCTP. Dit maak die prentjie kompleks; die slotsom is dat die tydpryse van ʼn groot verskeidenheid van produkte afneem en dat dit dui dat hulle oorvloed toeneem. Die Simon Oorvloed-Indeks meet die verandering in oorvloed van hulpbronne oor ʼn periode van tyd. Dit is die verhouding tussen die verandering van bevolking tot die verandering in die tyd-prys, vermenigvuldig met 100. Tussen 1980 en 2017 het die beskikbaarheid van hulpbronne teen ʼn saamgestelde koers van 4.3% per jaar toegeneem. Die Aarde was 3.79 keer meer oorvloedig in 2017 as toe Ehrlich en Simon hul weddenskap in 1980 aangegaan het. Simon het sy reël in die 80s geformuleer, dit lees “As population increases, the time-price of most commodities will get cheaper for most people, most of the time. Unfortunately, most people will assume the opposite.”

Armoede voor ca 1700.

Ons besef nie hoe swak die kwaliteit van lewe vir die meeste mense was nie, slegs die boonste 5 tot 10% van die bevolking (waarskynlik die leiersklas en priesters) het goed geleef. Die Bank van Engeland het beraam dat die globale bruto binnelandse produk (BBP) per persoon van 1000 BCE tot 1750 CE met 0,01% per jaar toegeneem het en dus 6000 jaar nodig het om te verdubbel. Van 1750 (begin van Nywerheidsrewolusie en Verligting) tot 2000 was dit 1,5% per jaar, ʼn verdubbeling ongeveer elke 50 jaar. Dit was ook ongeveer die tyd waar die mag van die kerk en beperkings wat hy op nuwe denke en aksies geplaas het, verminder het.

Francesco Guicciardini (1483– 1540), ʼn Italiaanse geskiedkundige en vriend van Niccolò Machiavelli, skryf “except for a few Grandees of the Kingdom [of Spain] who live with great sumptuousness, one gathers that others live in great poverty”. Sébastien Le Prestre de Vauban (1633–1707), ʼn militêre ingenieur in Louis XIV se tyd, beraam dat die Franse bevolking bestaan het uit 10 % ryk, 50 % baie arm (fort malaise), 30 % wat amper bedelaars was en 10 % wat wel bedelaars was. Geen wonder dat meer as 140 van die Psalms in die Bybel ʼn negatiewe aanslag het nie, die meeste mense het goeie rede gehad om oor hul lot te kla en het hulle ʼn bestaanstryd gevoer.

Die grafiek hierbo toon hoe die BBP per kapita vir spesifieke lande die laaste twee honderd jaar verbeter het, ʼn aanduiding van die toename van welvaart. Dieselfde hokkietstoktendens kom voor met ʼn baie stadige groei tot ongeveer 1800 en toe die ontploffing na bo. Al verskil die huidige bopunt van die lande aansienlik het almal vanaf 1800 dieselde ontploffing na bo ervaar.

Resultaat van die laaste amper 200 jaar se ontwikkeling

Die wêreld is ʼn geslote stelsel, en net soos ʼn klavier met 88 note, kan dit amper op onbeperkte manière ontwikkel word. Van belang dus is nie die fisiese beperkings van die aarde nie maar menslike vryheid om te eksperimenteer en alternatiewe gebruiksmoontlikhede te ontwikkel. “Malthus and Ehrlich argued that as the population increased, resources would become less abundant. Simon argued the opposite, that a growing population would increase the abundance of resources because with every hungry mouth comes a brain capable of reason and creativity”. Tupy en Pooley meld “Our analysis of 18 distinct data sets will show that the abundance of resources is increasing at a faster pace than the population is growing. We call that relationship superabundance”. Spesifieke voorbeelde van hierdie verbeterings is:

  1. Toename in welvaart. Die wêreldekonomie het die laaste 100 jaar meer as 100 keer gegroei, die bevolking met minder as agt keer.
  2. Die einde van armoede is in sig. 84% van wêreld se inwoners het in 1800 in ekstreme armoede geleef, in 2018 was dit 8.6%.
  3. Ons is nie besig om ons hulpbronne op te gebruik nie. In die algemeen het die reële prys van 50 kommoditeite oor die 37 jaar periode met 36.3% afgeneem.
  4. Die wêreldbevolking sal waarskynlik tussen 2060 en 2080 ʼn piek van 8.9 tot 9.8 miljard mense bereik, die wêreld sal nie oorbevolk word nie.
  5. Die einde van hongersnood is bereik. Die grootste hongersnood was van 1958 tot 1962 in Sjina met 45 miljoen sterftes en is deur verkeerde ideologie en gevolglike beleidsbesluite veroorsaak. Voedselproduksie vir almal is moontlik.
  6. Meer grond in vir die natuur beskikbaar, veral in ontwikkelde lande, boombedekking neem toe. Rekord areas van land en see word beskerm.
  7. Groei van stede is goed vir beide die mens en die natuurlike wereld. 50% van mense bly in stede met groter netwerkverbindings, sinergie, innovering en laer hulpbrongebruik.
  8. Demokrasie is aan die groei, tans is amper 50% van lande demokraties, 10% autokraties. Dit is die hoogste vlak van demokrasie ooit. Vryheid van spraak, assosiasie en beweging verbeter.
  9. ʼn Lang periode van vrede is ervaar, daar is min konflikte sedert die tweede wêreldoorlog. Afgelope konflikte was etnies of burgerlik van aard en is baie minder dodelik.
  10. Sterfgevalle deur natuurlike oorsake het met 99% verminder die afgelope 100 jaar.

Hoofredes vir innovering.

Baie meer mense het vandag die vryheid om te koop en verkoop, eksperimenteer, droom, investeer en misluk. Hul het vryheid van onteiening of beperkings deur die staat, stamhoofde, priesters of diewe. Alle mense moet waardigheid, respek en vryheid hê om nuwe idees te ontwikkel, eksperimenteer en bemark. Individue met ʼn gebrek aan gelyke wetlike regte, swaar regulerende beperkings, onbillike belastings of onsekere eiendomsregte word ontmoedig om hul idees om te skakel in uitvindings en innovasies.

Innovering is die belangrikste aspek van die moderne wêreld maar een van die wat die swakste verstaan word. Dit is die rede waarom die meeste mense vandag lewes van baie meer voorspoed en wysheid lewe as hul voorvaders en die afname van armoede is vir die eerste keer in die geskiedenis in vryval. Ons ontdek en skep waarde deur voortdurend ons onderskeie vorme van kapitaal te gebruik—menslik, fisies, intellektueel en finansieel— op nuwe maniere. Die proses van innovering en skep van waarde maak staat op baie en dinamiese, tydelike, plaaslike en persoonlike inligting.

Vryheid van die wereld.

Hierdie studie word jaarliks deur Freedom House onderneem, die eerste was in 1973 vyftig jaar gelede. Toe was 44 van die 148 lande as VRY aangeslaan, tans word 84 van die 195 lande VRY aangeslaan. Daar was die afgelope 17 jaar ʼn agteruitgang gemeet in die aantal lande wat vooruitgaan teenoor die aantal wat regresseer, maar dit lyk asof ʼn onderste draaipunt besig is om te vorm waar 34 lande ʼn verbetering toon en 35 ʼn afname, die kleinste verskil sedert die begin van die negatiewe tendens.

Die metodiek behels die evaluering van elke land volgens 25 kriteria vir politieke regte (kiesproses, politieke plurisme/deelname, funksionering van regering) en persoonlike vryheid (vryheid van uitdrukking/geloof, regte van assosiasie/organisasie, regstaat, persoonlike outonomie/individuele regte).

Die kaart kom vanaf Freedom of the World se webblad en elke land se vryheidstelling kan verkry word deur die wyser (cursor) daarop te plaas. Groen is vir lande wat as Vry aangeslaan word (84 lande), Geel vir Gedeeltelik vry (55) en Pers vir Nie vry (56). Die ontwikkelde wêreld is tot ʼn groot mate Vry, die suidelike deel van Afrika ook maar die res van Afrika en Asië nie. Dit is ook opmerklik dat die lande wat Vry is ook die beste ekonomies presteer.

 

ʼn Seleksie van lande se vryheidstelling uit 100 word hierna in die tabel getoon. Suid Afrika is so halfpad op die lys. Die vier ander Bricslande is met geel gemerk en die twee wat oorweeg word met rooi. Behalwe Brasilië en Indië, is dit hierdie lande wat laag op die Vryheidsleer lê.

Samevatting.

Kan superoorvloed voortgaan? Dit word bepaal deur Mense en hul Vryheid.

Sake van belang/kommer:

  • Omgewingspessimisme, veral waar emosie en ideologie ʼn dominante rol speel.
  • Vryheid van spraak en kommunikasie en … en…
  • Beperking van die vry mark.
  • Ontwikkeling van politieke stelsels weg van demokrasie, veral die effek van populisme.
  • Tydelike effek van korttermynskokke.
  • Makroskokke, sg Swart Swane.
  •  

Bronne van inligting