Van Mythos na Logos

Gedagtes oor die Onstaansjare van die Nuwe Hervorming Netwerk

Hansie Wolmarans

Inleiding

Die woord logos wat in die eerste verse van die Johannes evangelie verskyn, kan ook as “gesprek” vertaal word. Vanaf die sub-atomiese vlak bestaan die heelal uit klein deeltjies wat in verhoudings tot mekaar staan en, in ʼn sekere sin, met mekaar praat. Dit lei tot voortdurende aanpassings en veranderings. Net só word ons menslikheid gevorm deur al die interaksies, verhoudings en dialoog waarby ons betrokke is. In die lig hiervan, luister nou nuut na die eerste verse van die Johannesproloog:

In die begin was die gesprek, en die gesprek was by God, en die gesprek was God. Dit was by God in die begin. Deur hierdie gesprek het alles tot stand gekom; daarsonder is niks gemaak wat gemaak is nie. In hierdie gesprek was daar lewe, en hierdie lewe was die lig van die hele mensdom … Die gesprek het vlees geword en onder ons kom woon.

Sinvolle en vrye gesprek laat die mens groei in liefde vir die self, vir ander, en vir die natuur waarvan ons onlosmaaklik deel is. Dit bevry mense van skadelike opvattings en gedragspatrone. Dit skep groter samewerking en harmonie nie net binne die mens nie, maar ook met ander mense, en die natuur. Want, as jy mooi luister, hoor jy ook die stem van alle vorme van lewe. Paulus het dit gehoor volgens Romeine 8:22:

Ons weet tog dat die hele skepping tot nou toe saam met ons sug en saam met ons in geboortepyne verkeer.

Die totstandkoming van die Nuwe Hervorming Netwerk (of NHN) was gegrond in hierdie behoefte om vryelik gesprek te voer oor brandende kwessies binne die tradisionele Christendom. Dit het vrae soos die volgende ingesluit:

  • Wie was Jesus histories?
  • Wat is die aard van die Bybel en van God?
  • Watter verbande is daar tussen geloof en hoe mense leef?
  • Watter moraliteit word met die Bybel geassosieer en is dit steeds relevant?

In my praatjie gee ek ʼn oorsig oor die faktore wat tot die ontstaan van die NHN aanleiding gegee het, die vertrekpunte van die NHN, die antwoorde wat dit op die bogenoemde vrae gegee het, en of die beweging steeds relevant is.

Struktuur

Dit is hoe my aanbeiding verloop:

• Die aanloop tot en stigting van die NHN.

Dr Piet Muller se berig in Beeld 24 Januarie 2002 en sy boek Die Nuwe Hervorming.
Die amptelike stigting van die NHN op 31 Oktober 2004.
Waardes en vertrekpunte van die NHN.

• Die teologiese krisis binne die Christendom.

Miskenning van die ware aard van die Bybel.

      • Die Bybel is mities van aard.
      • Die Bybel is ʼn stamgebonde, patriargale dokument.
      • Die Bybel se moraliteit is partikulêr.

Onvergenoegdheid met die tradisionele Godsbeeld.

      • Die teïstiese Godsbeeld is uitgediend.
      • Mistisisme en die Goddelike.

Die vervolging van die ceterum censeo.

• Sommige bisarre effekte van die Christendom.

Die naïewe veroordeling van homoseksualiteit.
Geloofsgenesers.
Ponzi-skemas.
Danie Krügel se “wondermasjien”.

• Die huidige relevansie van die NHN

Die versplintering van Afrikaanse kerke.
Nuwe beweerde boereverneukers.
Die vervolging van homoseksueles in Afrika.
Ander vorme van bygeloof in Afrika.
Die status van embrios.
Die voortgaande vervolging van die ceterum censeo.

• Die Bybel as vertrekpunt binne ʼn Nuwe Hervorming.

• Slotsom.

 

Die aanloop tot en stigting van die NHN

Dr Piet Muller se berig in Beeld 24 Januarie 2002 en sy boek Die Nuwe Hervorming
Op 24 Januarie 2002 het Dr Piet Muller ʼn berig in Beeld geskryf, “ʼn Nuwe Hervorming met nuwe vrae.” Hy verwys na navorsing oor die historiese Jesus, veral binne die Jesus Seminar, as een van die vernaamste faktore vir die beweging. Dit dui aan dat die historiese Jesus radikaal van die Jesus in die geloofsbelydenisse verskil.

Daar was ʼn massiewe reaksie binne kerklike geledere asook in Afrikaanse koerante. In 2002 het die Nuwe Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika (NTWSA) ʼn kongres gereël. John Dominic Crossan van die Jesus Seminar is as gasspreker uitgenooi. Hy sou ook ná die kongres lesings aanbied in Pretoria, Johannesburg en Stellenbosch.

Bekende gelowiges en teoloë soos Dr Louw Alberts, Prof Murray Janson, en Prof. Adrio König het die Jesus Seminar verdoem. As sekretaris van die NTWSA het ek in die pers ʼn ope uitnodiging aan alle beswaardes gerig om met Crossan in gesprek te tree by sy lesings. Nie ʼn enkele een het opgedaag nie. Vrye gesprek was net nie moontlik nie; wel ex cathedra geloofsverklarings.

ʼn Publikasie onder die redakteurskap van Dr Piet Muller, Die Nuwe Hervorming, het ook in 2002 die lig gesien. Hyself, asook Proff Pieter Craffert, Sakkie Spangenberg, Pieter Botha, en ek het vanuit die Bybelwetenskappe bydraes gelewer. Dr Jacques Kriel, voorheen Dekaan by Medunsa, en sy vrou Carol, Prof Wilhelm Jordaan, ʼn sielkundige, en Dr Maretha Jacobs van Unisa het ook bygedra. Al die kerklike teologiese fakulteite, behalwe Stellenbosch, het daarna verklarings teen die Nuwe Hervorming uitgereik.

Daar was nie ʼn enkele verklaring teen predikante wat eksorsisme beoefen, “anderskleuriges” by begrafnisse weggejaag het, of teen homoseksuele mense diskrimineer nie. Die kerke was grafstil of selfs positief teenoor die wonderbaarlike aansprake van geloofsgenesers en ponzi-skemas.

Die amptelike stigting van die NHN op 31 Oktober 2004

Omdat gesprek binne die kerk bykans onmoontlik was, is die Nuwe Hervorming Netwerk op 31 Oktober 2004 in Centurion amptelik gestig. Dit was gedryf deur ʼn onrustigheid oor die basiese vertrekpunte van die ortodokse Christelike tradisie dat:

a) die Bybel en die drie-verdieping wêreldbeeld, die geopenbaarde Woord van God is;
b) die essensie van God (insluitend Jesus) akkuraat in geloofsartikels uitgedruk word;
c) die Christendom die enigste ware godsdiens is; en
d) die Christendom die beste deur geloofsbelydenisse en nie deur waardes nie, gedefinieer word.

Waardes en Vertrekpunte van die NHN

Die vyf onderliggende waardes en vertrekpunte van die NHN was, myns insiens, die volgende:
a) Mens, natuur en samelewing: Die mens is deel van die natuur en die leerstuk van dominionisme is uitgedien en gevaarlik. Patriargie en homofobie hoort op die ashoop van die geskiedenis.
b) ʼn Dualistiese wêreldbeeld is uitgedien: Die liggaam huisves nie ʼn onsterflike siel nie; hemel en hel bestaan nie buite hierdie aarde nie; die hiernoumaals word nie met ʼn hiernamaals gebalanseer nie.
c) Bonatuurlike agente bestaan nie: ʼn Intervensionistiese God of verleidende
Satan bestaan nie.
d) Etos: Om Jesus te volg is om die lewe te bevorder (Johannes 10:10). Sonde is enige daad of opvatting wat jouself, ander mense, of die natuur, benadeel.
e) Die belang van dialoog: Vrye gesprek staan sentraal en daar is niks binne godsdiens waaroor nie gesprek gevoer mag word nie.

Breedweg was dit dan die onderliggende redes vir die ontstaan van die NHN, en die NHN se waardes. Meer spesifiek was daar ʼn teologiese krisis binne die Christendom juis omdat vrye gesprek, veral met Bybelwetenskaplikes, met wantroue bejeen is.

Die teologiese krisis binne die Christendom en die reaksie van die NHN

Miskenning van die ware aard van die Bybel

Oor die algemeen ontken gelowiges die ware aard van die Bybel. Dit is essensieel mities van aard. Op goeie gronde aanvaar die NHN dat die Bybel nie God se woord vir mense is nie, maar mense se woorde oor God en oor ander bonatuurlike agente soos Jesus, engele, en die duiwel.

Die Bybel is mities van aard

Griekse filosowe, soos Plato, het die onderskeid tussen mythos en logos gemaak. As literatuursoort val die Bybel breedweg binne die kategorie van mythos. Dit beteken, per definisie, dat interne (sielkundige) en eksterne werklikhede verklaar word in terme van bonatuurlike agente. Hulle is werksaam in die onsigbare ruimtes van die hemel en die onderwêreld of hel. Mythos berus op ʼn voorwetenskaplike siening van die wêreld wat nie deur die NHN ondersteun word nie.

  • Voorbeelde uit die Bybel van mythos is die volgende:
  • God het die heelal in ses dae geskape (Genesis 1).
  • Die mens is dubbelsielig, met goddellike en demoniese aspekte (Jakobus 1:8).
  • Epilepsie word deur duiwelbesetenheid veroorsaak (Markus 9:22).
  • Donderweer is God se stem (Psalm 18:13).Homoseksualiteit is God se straf vir afgodery (Romeine 1:28)
  • Ná sy kruisdood het Jesus afgedaal hel toe, uit die graf opgestaan, en opgevaar hemel toe.

Die idee van wonderwerke en magie is onafskeidbaar met die literatuursoort van mythos
verbonde. Dit is omdat bonatuurlike magte inwerk op aardse fenomene.

Vanaf 650 VGJ het ʼn fundamentele verskuiwing in wêreldsiening plaasgevind. Daar was ʼn nuwe literatuursoort, logos. Dit verklaar die omgewing uit sigself (dit wil sê, wetenskaplik), en nie langer in terme van bonatuurlike agente nie.

Voorbeelde van logos is:

  • Alle vorme van lewe deel gemeenskaplike voorouers.
  • Seksuele oriëntasie word hoofsaaklik geneties vasgelê.
  • Die mens het ʼn bewussyn en ʼn onderbewussyn.
  • Natuurwette kan nie oortree word nie.

Die onderskeid tussen mythos en logos maak dit duidelik dat die Bybel oor die algemeen nie letterlik gelees behoort te word nie: nie die skeppingsverhaal nie; nie die oorsprong van tale by die toring van Babel nie; nie die wondergenesings nie; nie die maagdelike geboorte nie; nie die opstanding nie; nie die wederkoms nie; nie die veroordeling van homoseksualiteit nie. Om mythos as logos te verstaan, veroorsaak die botsing tussen geloof en wetenskap. Die NHN neem dus die Bybel ernstig op, maar lees dit nie letterlik nie.

Die Bybel is ʼn stamgebonde, patriargale dokument

Die Bybel is verder ʼn stamgebonde, patriargale dokument. In die Ou Testament word daar byvoorbeeld volksmoord gepleeg in opdrag van Jahweh. Offers moet aan God gebring word om God se goedgesindheid te behou—selfs mense-offers soos die rigter Jefta wat sy dogter geslag het. God gee vorm aan die geskiedenis rondom God se verhouding met Israel. Ander volke word byvoorbeeld gebruik om Israel te straf vir hulle afgodediens.

Die Nuwe Testamentiese God is meer inklusief, maar steeds ʼn waarborg van ʼn patriargale samelewing, vir ʼn uitverkore stam, die nuwe Israel. God determineer die geskiedenis volgens ʼn bloudruk vir Christene. ʼn Ligpunt is 1 Johannes 4:8 waar God as ʼn gebeure, byna ʼn werkwoord, beskryf word, “God is liefde”.

Die verskillende boeke binne die Bybel is almal deur mans geskryf en dit ondersteun ʼn patriargale samelewingstruktuur. Hiervolgens is mans in beheer, en is vroue mans se besittings. Daarom kan Abraham vir Sara bedrieglik aan ʼn ander man as vrou gee, om sy eie bas te red (Genesis 12:10-20; 20:2-12) en is sy verplig om by dié man te slaap.

Die Bybel se moraliteit is partikulêr

Die Bybelse moraliteit is partikulêr, nie universeel nie. Dit ondersteun spesifiek die instandhouding van ʼn etniese patriargale samelewing. Hierin funksioneer God as ʼn simbool van volksidentiteit. Die tweede gebod verbied byvoorbeeld godsdiensverdraagsaamheid, en die tiende beskryf vroue en slawe as besittings van ʼn patriarg.

Jahweh straf onregverdiglik kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, en selfs agter-agter kleinkinders van hulle wat ander gode aanbid (die tweede gebod, Exodus 20:3-5). Selfs die Nuwe Testament ondersteun slawerny (Efesiërs 6:5). Israel is die uitverkore volk en die afstammelinge van Gam word vervloek om hulle te dien (Genesis 9:25; Joshua 9:23).

Kulties-nasionale identiteit is van primêre belang. Volgens Esra 10:18-44 is Joodse mans gedwing om van hulle nie-Joodse vroue te skei, en hulle met hulle kinders uit die land te verdryf. In Matteus 10:35-37; 19:29 moedig Jesus mense om hulle familie agter te laat, en selfs te haat, om hom na te volg.

Gevolglik wil die NHN nie die moraliteit van die Bybel ondeurdag as God se gebod aanvaar nie. Sonde word herdefnieer. Dit is nie die oortreding van God se gebooie nie, maar enige daad of denke wat mens self, ander mense, of die natuur skade berokken. Hervolgens is homofobie, xenofobie, volksmoord, godsdiensonverdraagsaamheid, slawerny en geslagsgeweld sonde, al word dit in die Bybel goedgekeur.

Onvergenoegdheid met die tradisionele godsbeeld.

Die teïstiese Godsbeeld is uitgediend

Die tipiese godsbeeld van die Christendom is nie langer aanvaarbaar nie. Dit stel God voor in teïstiese terme, naamlik ʼn bonatuurlike wese wat almagtig, alwetend, alomteenwoordig, intervensionisties en liefdevol is. Die vraag waarom só ʼn god die mees skrikwekkende euwels sou toelaat, is die doodskoot vir ʼn teïstiese God.

Alreeds in die vierde/derde eeu VGJ het die Griekse filosoof, Epicurus, hierdie argument gebruik om die bestaan van God te ontken. “Wil God die kwade voorkom, maar kan nie? Dan is hy nie almagtig nie. Kan hy, maar hy wil nie? Dan is hy kwaadwillig. Kan hy en wil hy? Waar kom die kwade dan vandaan? Kan hy nie en wil hy nie? Waarom hom dan God noem?”

Gevolglik wil die NHN nie aanvaar dat God die geskiedenis determineer nie. Dinge gebeur nie vanweë ʼn kosmiese goddellike rede nie. Die geskiedenis is daarom ook nie voorspelbaar nie. Profesieë binne die Bybel wat die toekoms korrek voorspel, is almal vaticinia ex eventu—profesieë wat ná ʼn gebeure gekonstrueer is.

Is dit dan nog sinvol om die term God te gebruik? Saam met teoloë soos Don Cupitt en Lloyd Geering meen ek van ja. God word nou egter ʼn oorkoepelende simbool van alles wat reg en goed en mooi en prysenswaardig is, byvoorbeeld inklusiwiteit, vryheid van spraak, ekologiese bewussyn, en omhelsing van die wetenskap en intellek.

Mistisisme en die Goddelike

Binne die NHN het aanhangers van mistisisme ook ʼn plek gekry, soos byvoorbeeld
Dr. Abel Pienaar (Renaissance gemeenskap), en Dr. Piet Muller. Hulle aanvaar dat mistieke ervaring ʼn geldige manier is om kennis te verkry oor die Goddelike. Mistisisme ondersteun die tipiese waardes van die NHN.

Dit is miskien hier gepas om na die Afrikaanse mistikus, Johanna Brandt te verwys. Sy is in 1876 gebore en sterf in 1964. Gedurende die tweede Boere-oorlog was sy ʼn spioen vir die boeremagte. Later word sy predikantsvrou. Ná die oorlog doen sy post-traumatiese stres op. Sy sien visioene van Jesus en maak ʼn aantal voorspellings. Dit daar gelaat. Tog is dit interessant dat sy die volgende uitsprake gemaak het:

  • Hemel en hel is binne-in die mens.
  • Die natuur is God se uiterlike vorm.
  • Natuurwette lei ons na God toe.

In hierdie opsigte was sy ʼn voorloper van die NHN!

Die vervolging van die ceterum censeo

Deel van die teologiese krisis binne die Afrikaanse Christendom was hoe om andersdenkendes te hanteer. Die onkritiese oorname van die Bybel se voorwetenskaplike wêreldbeeld het tragies gelei tot die vervolging van hulle wat sê, ceterum censeo, “ek dink anders.”

Sakkie Spangenberg is in 2002 en 2004 binne die NG-Kerk van leerdwaling aangekla. Die eerste klagte dat hy die uniekheid van Christus sou ontken, was onsuksesvol. Die tweede was dat hy die leer oor die Drie-Eenheid bevraagteken. Hy bedank uit die NG- Kerk voordat ʼn formele verhoor plaasvind. Vrye gesprek binne die kerk was onmoontlik.

In 2002 is ekself deur Dr Fanie (S.P.) Pretorius, sekretaris van die Hervormde Kerk, van wangedrag aangekla. Dit was na aanleiding van ʼn artikel in Beeld waarin ek onder andere kritiek uitgespreek het teen die leerstuk dat Jesus se kruisdood ʼn plaasvervangende versoening vir ons sondes was. Ek het die klag as een van talle voorbeelde van teistering ervaar—veral nadat die gemeente Leondale, wat ek deeltyds bearbei het, vir alle rasse oopgestel is. Gevolglik het ek uit die kerk bedank voordat ʼn verhoor kon plaasvind. Gesprek het onmoontlik geword. Ek sluit aan by die Presbiteriaanse Kerk.

Sommige bisarre effekte van die Christendom

ʼn Uitgediende teologie het bisarre effekte op mense se gedrag gehad. Homoseksualiteit is byvoorbeeld naïewelik as sonde veroordeel.

Die naïewe veroordeling van homoseksualiteit

Vanaf 2006 is selfdegeslag huwelike gewettig. Tot op hede is daar geen tradisionele kerk in Suid-Afrika wat hulle leraars toelaat om sulke huwelike te bevestig nie. Die verbod word op skrifgedeeltes begrond. Volgens die 1983-Vertaling van 1 Korintiërs 6:9 en
1 Timoteus 1:10 is dit “mense wat homoseksualiteit beoefen” wat van God se koninkryk uitgesluit word. Volgens die 2000-Vertaling is dit “mans wat met mans intiem verkeer.” Dit is akademies-oneerlike vertalings. In dié verse gaan dit oor sondes wat die sosiale orde bedreig. Daarom is dit meer korrek om dit as “seksuele perverte” te vertaal. Die NHN aanvaar dat wat volwasse mense met wedersydse instemming in hulle slaapkamers doen, niks met die kerk te doen het.

Geloofsgenesing

Dat mense steeds in die een-en-twintigste eeu geloofsgenesing ondersteun, is grotesk. Daar is geen enkele wetenskaplike bewys dat God in antwoord op gebed byvoorbeeld geamputeerde ledemate laat aangroei nie. Dit is die onkritiese aanvaarding van die Bybel se voorwetenskaplike wêreldbeeld wat mense steeds hierin laat glo.

Gedurende die aanloop tot die stigting van die NHN het hordes Afrikaanse kerklike lidmate Lagos toe gestroom om deur die “profeet” TB Joshua genees te word. Ds Jannie Pelser van die NG-Kerk het selfs toere soontoe gereël. Dr. Isak Burger, president van die AGS, skryf in Beeld van 16 Mei 2001 dat die skares in Lagos saamtrek omdat daar onweerlegbare openbarings van die bonatuurlike plaasvind.

Beeld self berig nie krities oor hierdie sogenaamde wonderwerke nie. Dit was Jacques Pauw in sy boek Dances with Devils wat TB Joshua as ʼn bedrieër aan die kaak gestel het. Ruben Kruger, oud Sprinbok-flank, asook Wium Basson, is oorlede kort nadat hulle Joshua besoek het. Die “profeet” self sterf op 57-jarige ouderdom in 2021. In Januarie 2024 stel die BBC ʼn reeks van drie dokumentêre programme vry waarin hulle uitwys hoe Joshua homself skuldig gemaak het aan verkragting, marteling, seksuele misbruik van kinders, gedwonge aborsie, en die grootskaalse vervalsing van genesingsaansprake.

Ponzi-skemas

In die 1980s het derduisende mense geld verloor in Adriaan Nieuwoudt se Kubus Ponzi- skema. By die draai van die eeu was dit Marietjie Prinsloo se Krion piramide-skema wat Vanderbijlpark finansieel ruïneer het. Sy het op haar briefhoofde en kantore die woorde gebruik Soli Deo Gloria, “aan God aleen die eer.” Dit was Afrikaanse gelowige mense wat haar beloftes van 10% per maand opbrengs geglo het. Interessant genoeg, is sy met ʼn bybelse term benoem, “Die Engel van Vanderbijlpark.” Daar is steeds gelowige mense wat deur boereverneukers mislei word om te glo dat God hulle geld wonderbaarlik gaan vermeerder. Die NHN het dit nog nooit ondersteun nie.

Danie Krügel se Wondermasjien

Op Sondag 29 Julie 2007 word ʼn program oor Carte Blanche uitgesaai en deur Ruda Landman aangebied. Hiervolgens sou Danie Krügel se wondermasjien die oorskot van die vermiste slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen vind. Die aansprake was natuurlike loutere snert—en persoonlik dink ek ʼn laagtepunt in Landman se joernalistieke loopbaan. Hy beweer dit werk met dieselfde krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het. Daar is hoegenaamd geen wetenskaplike bewyse dat sy uitvinding suksesvol was nie.
Bygeloof is diep gesetel in ons Afrikaanse kultuur om selfs omroepers van hulle kritiese denke te ontneem.

Dit was dan die konteks waarbinne die NHN in 2004 gestig is, asook hoedat ons organisasie daarop reageer het. Die vraag is of die NHN in 2024 steeds ʼn rol het om te vervul.

Die Huidige Relevansie van die NHN

Myns insiens is daar meer as ooit tevore ʼn noodsaak vir die NHN. Ek verwys kortliks na ʼn
paar onlangse gebeure.

Die versplintering van Afrikaanse kerke

Op 12 November 2011 het ses-en-sestig gemeentes van die Hervormde Kerk afgestig en hulleself as die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes georganiseer. Die Bybel word letterlik interpreteer (sola scriptura) en klem word gelê op die maagdelike verwekking van Jesus en sy opstanding uit die dood. Hulle verstaan hulleself as ʼn “volkskerk”. Die huwelik as ʼn lewenslange verbintenis tussen ʼn man en ʼn vrou word bevestig en homoseksuele verbintenisse as sonde afgewys. Hier het ons geïnstitusionaliseerde rassisme, homofobie en anti-intellektualisme wat klakkeloos sekere aspekte van die Bybelse mitiese wêreldbeeld en moraliteit oorneem.

Binne die NG-Kerk is daar op 4 Mei 2023 ʼn Koinonia Sinode gestig met ses-en-vyftig gemeentes. Jesus word bely as “hoof van die kerk” met “goddelike gesag” en wie se leringe oor “die huwelik” absoluut waar is. Belangrik is om Jesus se “fisiese opstanding” as letterlik te aanvaar, asook die bestaan van die duiwel. Dis die eerste keer waarvan ek weet dat die duiwel deel vorm van ʼn geloofsbelydenis. Myns insiens, impliseer dit geloof in ʼn veelgodedom. Bygeloof word steeds in stand gehou en anti-intellektualisme bevorder deur die aanvaarding van ʼn voorwetenskaplike siening van die wêreld.
Homofobie word geïnstitusionaliseer.

Nuwe beweerde boereverneukers

Louis Liebenberg het deur sy Tariomix maatskappy diamante gekoop en verkoop. Hy het beleggings hierin van veral Afrikaanse mense gewerf. Die hof het onlangs ʼn bevel uitgereik dat die maatskappy finaal gelikwideer word. Volgens Netwerk 24 word soveel as 80,000 mense deur die hofbevel geraak en is daar ʼn totale bedrag van rondom R1bn betrokke. Hy het miljoene aan Zuma geskenk om hom te help met sy hofsake.

Liebenberg gebruik godsdiens om sy diamantskemas te adverteer. Hy het byvoorbeeld onbeskaamd saam met die “Heilige Gees” in ʼn bad baljaar en ʼn opvolgpreek in die stort gelewer. ʼn Soektog op Facebook “Louis Liebenberg Fraud” lewer blitsig talle resultate van mense wat beweer hy het hulle bedrieg.

Die vervolging van homoseksueles in Afrika

In Afrika het Nigerië, Uganda, Mauritanië, en Somalië, die doodstraf ingestel vir homoseksuele dade. Ghana, gefinsansier deur Amerikaanse fundagelicals, aanvaar streng anti-homoseksuele wetgewing met swaar tronkstraf. Homofobie is lewendig en gesond en word op Bybelverse gegrond.

Ander vorme van bygeloof binne Afrika

Duiweluitdrywing word steeds nie amptelik deur die NG-Kerk verbied nie. Veral binne swart gemeenskappe bestaan daar nog die gebruik om liggaamsdele as muti te gebruik vir genesing. Binne een jaar was daar in die Limpopo provinsie 250 sulke moorde. Jacob Zuma is in 2007 as ʼn erepastoor in die Volle Evangelie Kerk georden. In 2014 het hy vertel dat hy toordery teen die boere gebruik het gedurende die apartheidsjare.

Ná die politieke oorgang van 1994 is honderde verdagte hekse in Suid-Afrika verbrand. Duisende ouer mans en vroue wat van toordery verdink word, soek skuiling in sewe vlugtelingkampe.

Dit is mense wat hulleself Christene noem wat hierdie dade pleeg.

Die status van embrios

Die hoogste hof in die Amerikaanse staat Alabama het in Februarie 2024, op Bybelse beginsels, besluit dit is moord om ʼn embrio te vernietig. Die beheer van vroue oor hulle eie liggame word dus steeds deur patriargale bybelversies bevestig. Daar is ʼn geweldige aandrang van fundamentaliste in die VSA dat die grens tussen kerk en staat moet verdwyn.

Die voortgaande vervolging van die ceterum censeo

Ketteryverhore gaan voort. Ekself is in 2015 van wangedrag aangekla in die Presbiteriaanse kerk omdat ek selfdegeslag huwelike bevestig en is onskuldig bevind. In 2016 is ek van kettery aangekla en as predikant gesuspendeer. Die tweede klag is na vyf jaar onvoorwaardelik teruggetrek en die kerk was gedwing om verskoning aan te bied.

In Januarie 2023 word Dr Peter Nagel, dosent aan US se teologiese skool van leerdwaling aangekla omdat hy kwansuis die godheid van Jesus betwyfel. Hy word tydelik geskors en het eers in Desember 2023 sy predikantsbevoegdheid teruggekry. Anti-intellektualisme en ʼn wantroue in die Bybelwetenskappe duur voort.

Daar is dus steeds behoefte aan ʼn organisasie soos die NHN om die gesprek voort te sit en mense te ontkeer van mythos en te bekeer na logos—ek bedoel dit effe tong in die kies.

Die Bybel as vertrekpunt binne ʼn Nuwe Hervorming

Ek is bewus daarvan dat talle lede van die NHN nie langer meen dat die Bybel relevant is of dat ʼn sinvolle debat met tradisionele Christene moontlik is nie. My persoonlike mening is dat daar genoeg in die Bybel is om sinvol ʼn gesprek te voer oor eietydse vraagstukke.

Die boek Hosea, byvoorbeeld, se eerste hoofstukke het die tipiese trekke van patriargale vrouehaat. Die profeet beskuldig sy vrou, Gomer, van ontrou; hy maak haar kinders teen haar op; hy dreig om haar in die openbaar nakend te paradeer, en op te hou om vir haar te sorg. Sy word selfs met opsluiting gedreig. Dan weer wil die profeet haar die hof maak. Dit volg die tipiese patroon van huishoudelike geweld.

Ek vra myself toe of daar enige opbouende boodskap oor God in Hosea se boek is. Toe lees ek verder. Later in sy boek laat vaar Hosea die metafoor van die mislukte huwelik om oor God te praat. Hy praat in nuwe metafore. In hoofstuk 6 sê hy God is soos iemand wat ons wonde verbind en wat ons versorg. In hoofstuk 11 sê hy God is soos hulle wat ons geleer het om te loop, wat ons in hulle arms gedra het, wat ons drukkies gegee het, en wat afgebuk het om ons kos te gee.

Wie het dit vir ons gedoen? Wie het ons seerplekke gepleister en ons voete op hulle voete gesit en agteruit geloop en ons hande vasgehou om ons die selfvertroue te gee om self te loop? Wie het ons kos gegee? Wie het ons drukkies gegee? Wie het ons opgetel en op hulle skouers gedra?

My vrou het dit vir ons kinders gedoen. Ek het dit vir ons kinders gedoen. Die oupas en oumas het dit vir ons kinders gedoen. Die huishulpe wat hulle soms opgepas het, het dit vir ons kinders gedoen. God is liefde. God is soos ʼn pa of ʼn ma, of ʼn oupa of ʼn ouma, of ʼn kinderoppasser. Hierdie metafoor maak vir my meer sin. Ek sien dit in Jesus se lewe. Hy het die skares kos gegee. Hy het kindertjies opgetel en drukkies gegee. Hy het die siekes aangeraak en genees. Hy het teologie bespreek met ʼn Samaritaanse Gomer by ʼn put.

Ek ervaar dieselfde godsbeeld as ek Paulus se woorde in Galasiërs 3:27 lees dat daar nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek, en ek voeg self by, gay of straight is nie—ons is almal een.

Spreuke 12:10 verklaar dat regverdige mense die behoeftes van hulle diere ken, maar dat goddeloses wreed is. Eksodus 23 maak die sabbatsjaar ook van toepassing op saailande. Hierdie dele kan vrugbaar gebruik word om oor ekologiese kwessies te praat.

Reg oor die wêreld is daar gemeentes wat binne die paradigma van ʼn progressiewe Christendom funksioneer. Dit lewer opwindende nuwe vorme van teologie, musiek en kuns. Vanuit die prosesteologie, kom die himne, “God is known in all creation”. Dit is geskryf deur Amanda Udis-Kessler en die tweede strofe lui:

God is known in evolution,
in the ways we grow and change.
God is known in our connections
with all creatures close and strange.
God unfolds in our unfolding.
God evolves as we evolve.
Coaxing order out of chaos,
full of patience and resolve.

Hoe ookal ons verkies om dialoog te voer, vanuit die kerk, vanuit ʼn skeptisistiese ateïsme of vanuit ʼn mistieke ervaring van die goddelike, die gesprek moet voortgaan.

Slotsom

In hierdie praatjie het ek aangedui hoedat die gebrek aan vrye gesprek ʼn teologiese krisis binne die Christendom veroorsaak het. Dit het aanleiding gegee het tot ʼn Nuwe Hervorming. Die NHN wil, deur ʼn veilige ruimte vir dialoog te verskaf, mense die geleentheid bied om te groei in liefde vir hulleself, ander mense en die natuur waarvan ons deel is. Dit bevry ons van ʼn skadelike voorwetenskaplike wêreldbeeld, die magiese denke wat daaraan verbonde is, en die tipiese onverdraagsaamheid van Christene. Ons omhels die wetenskap en intellektualisme. Dit kan ons help om outentiek mens te wees volgens die waardes van gelykheid en inklusiwiteit.

Ek sluit af met twee Latynse aanhalings:

Ubi caritas et amor deus ibi est—waar daar liefde en medelye is, daar is God.
Ubi dubium et sermo libertas ibi est—waar daar twyfel en gesprek is, daar is vryheid.

 

Skakel na die YouTube video: https://www.youtube.com/watch?v=8GIuaRtHyuQ