Midrandbyeenkoms: Sondag 12 November 2017
Om die kwessie na behore te bespreek, is dit belangrik om eers te bepaal wat Armoede en Geregtigheid is. Derhalwe tref Hennie onderskeid tussen twee soorte armoede, naamlik tussenliggende of intermediêre armoede en uiterste armoede.
In eersgenoemde het mense nie voldoende ekonomiese vermoëns om hulle in staat te stel om deel te hê aan kenmerkende sosiale aktiwiteite wat sentraal tot menswees is nie, soos troue of verjaardagvieringe. Ook het hulle nie voldoende ekonomiese vermoë om hul talente te ontwikkel sodat ander mense dit kan geniet en waardeer nie.
As dit by uiterste armoede kom, is daar bykomende leed en skade, waar sulke mense nie in hul basiese behoeftes soos kos, klere, huisvesting en mediese sorg kan voorsien nie. Hul gesondheid ly daaronder en hulle sterf dikwels vroeg.
Armoede en menswaardigheid hang saam. ‘n Deel van menswaardigheid word bepaal deur ons gebruik van ekonomiese vermoëns. Diegene wat in armoede leef se status as interafhanklike, selfversorgende medeburgers word ondermyn, hulle bly in slegte omstandighede, word uitgesluit van produktiewe, gewaardeerde bydraes tot die samelewing en selfs uitgesluit van die projek om die gemeenskap se oorlewing en florering te verseker.
Volgens Hennie raak armoede kwessies van lewe en dood. Dit ondermyn nie slegs mense se menswaardigheid nie, maar veroorsaak of vererger slegte menseverhoudings, lei tot verkwiste menslike potensiaal en beteken openbare vernedering vir armes. Dit wys mense se onmenslikheid teenoor ander mense en lei dikwels tot omgewings wat verwoes en verwaarloos word (nie dat welvarendes NIE ook die omgewing verwoes nie, voeg hy by).
Vervolgens belig Hennie die veelvoud van oorsake wat na armoede lei, wat insluit gestremdheid of werkloosheid, natuurrampe, sosiale rampe soos oorlog, slegte of geen opvoeding, ekonomie, politiek en immoraliteit.
Dit bring ons by Geregtigheid.
Hy behandel die kernboodskap ‘om aan elkeen te gee of te doen wat hulle toekom’. Hierin kom die vraag na vore wat ‘toekom’ beteken. Die antwoord lê in die konteks van ‘behoort te gee’ of ons ‘het ‘n plig om te gee’ en selfs ander mense se ‘reg tot liefdadigheid’. Ons kan vervolgens daaraan dink dat sommiges ‘iets het om te gee of te doen’, want hulle beheer goed of diens. Ander vrae wat opkom as ons oor geregtigheid dink, is wie is die ‘elkeen’; ons familie, dorp, land, kultuur, taal of die heelal? Het elkeen nie reg op gelyke respek nie?
Nog kwessies om te oorweeg is hoe bepaal ons geregtigheid en wat kom elkeen toe? Benewens goedere, dienste en kanse (geleenthede), hou geregtigheid ook verband met dade en houdings (besluit billik in ‘sfere’, soos in die kies van sportspanne en werkgeleenthede).
Hennie belig dan ook faktore soos erkenning, wederkerigheid, bemagtiging, verdeling, transformasie en rekenskap. Die kernboodskap hier is dat geregtigheid armoede kan voorkom en uitroei.
John Rawls (1921 – 2002) vir wie Hennie groot bewondering het, se boek A Theory of Justice (1971) het geregtigheid as billikheid (“justice as fairness”) beskryf. In ‘n denk-eksperiment het Rawls die sogenaamde ‘oorspronklike posisie’ oftewel “The Original Position” voorgehou. Daarvolgens moes jy jou verbeel:
‘As jy nie weet wie jy in ‘n ideaal-regverdige samelewing gaan wees nie… watter samelewing sal jy kies as jy in enige posisie gebore sou kon word?’
Jy kon dus in ‘n samelewing gebore word waarin inkomste en rykdom uiters ongelyk, of heeltemal gelyk of deels gelyk verdeel is. Volgens Rawls sal almal die volgende twee beginsels kies:
1ste beginsel van geregtigheid:
Elke persoon moet gelyke reg hê tot: die mees uitgebreide basiese vryheid… versoenbaar met ‘n soortgelyke vryheid vir ander.
2de beginsel van geregtigheid:
Sosiale en ekonomiese ongelykhede moet so georden word dat hulle: tot die grootste voordeel van die mins-bevoorregtes is; en verbonde is aan posisies en poste oop vir almal, onder omstandighede van billike gelyke geleenthede.
Dan kom Rawls se vrae aan nie-arm Suid-Afrikaners na vore:
- Is ons samelewing regverdig genoeg dat jy gelukkig sou wees as jou vyand jou posisie in ons samelewing bepaal het?
- In watter posisie sou jy glad nie kans sien om gebore te word nie? (Hoekom is dit dan goed as miljoene ander daarin leef?)
- Hoe moet ons samelewing verander om die basiese belange van elke burger veilig te stel? (Dat niemand in uiterste armoede of tussenliggende armoede leef nie?)
Ten slotte bespreek Hennie die Christendom en armoede met verwysing na die sentrale waardes van die Ou Testament en wat sou ‘n Christelike teorie oor armoede kon wees (hy doen dit aan die hand van die twee bekende gelykenisse, naamlik dié van die Barmhartige Samaritaan en ook Lasarus en die Ryk Man).
Twee boeke uit Hennie se pen is: Poverty, Ethics and Justice en When I needed a neighbour were you there?