Midrandbyeenkoms: Sondag 29 Oktober 2017
Alhoewel die Protestantse Hervormers in die sestiende eeu weggebreek het van die Rooms-Katolieke Kerk en sy Latynse vertaling van die Bybel, het hulle getrou gebly aan die oortuiging dat die boek Daniël ’n profetiese boek is.
Hierdie boek, so het hulle geglo, handel oor die eindtye. Die rede vir die oortuiging dat die boek Daniël ’n profetiese boek is, vind ons onder andere in Matteus 24:15–18 waar die Jesus-karakter na Daniël as ’n profeet verwys. Hierdie verwysing kom egter nie in die ander twee sinoptiese evangelies (Markus en Lukas) voor nie en is waarskynlik deur die skrywer van die Matteus-evangelie ingevoeg. Die historiese Jesus het nie die woorde p
resies só soos Matteus dit weergee, uitgespreek nie.
Maar dis nie al rede waarom die boek Daniël as profetiese boek beskou word nie. Die boek staan in sowel die Rooms-Katolieke as die Protestantse Bybels by die groot profete: Jesaja, Jeremia en Esegiël. In die Joodse Bybel (oftewel die Tanach) staan die boek by die Geskrifte – of dan die derde deel van die Tanach. Die rede vir die ander plasing hou daarmee verband dat die Joodse Rabbi’s oortuig daarvan was dat Daniël nie gebeure ná die Makkabeëropstand (167–164vC) voorspel nie. Porphurius (232–304) ’n Neo-platonistiese filosoof wat hom sterk uitgespreek het oor die sienings wat Christene gehuldig het, het onder andere hul standpunt oor Daniël gekritiseer. Hy het die boek as ’n vervalsing afgemaak wat nie in die sesde eeu vC geskryf is nie, maar in die tweede eeu vC. Hierdie standpunt sou later bekend staan as die Makkabeërhipotese. Dis nou die siening dat die boek Daniël kort vóór die Makkabeëropstand geskryf is.
Tydens die Protestantse Hervorming het Martin Luther (1483–1546) byvoorbeeld geglo dat hy in die laaste dae voor die wederkoms leef. Ander Christene in Europa het die visioene in die boek Daniël gebruik om die gebeure wat rondom hulle afgespeel het, te probeer verstaan. Daniël 2 en 7 vertel van die opeenvolging van vier groot ryke en die koms van ’n vyfde ryk w
at as die finale godsryk voorgehou word. Maar Protestantse Christene het die boek ook gebruik om ander mense en selfs ander Christene as kinders van die Bose of as die antichris te tipeer. Die rede hiervoor was natuurlik die strewe om vry te kom van die pouslike heerskappy en om seggenskap oor hul eie lewens te verkry. Die Protestantse Hervorming was dus nie net ’n godsdienstige hervorming nie maar ook ’n politieke een en Protestantse Christene het byna deur die bank die pous as die antichris beskou.
Die idee van ’n antichris het Christene uit Daniël 8:9–14 se vertelling van die bokram met sy vier horings gekry. Hierdie gegewens word natuurlik met Openbaring 20 en die vertelling van die Satan en die duisendjarige vrederyk verbind. So “sing” Daniël en Openbaring uiteindelik dieselfde deuntjie, want Skrif moet met Skrif vergelyk word. Voorbeelde van hierdie soort interpretasie en gebruik van Daniël het gedurende die sestiende en sewentiede eeu algemeen in Europa voorgekom.
Thomas Müntzer (1488–1525), een van die leiers tydens die boere-opstand in Duitsland, het onder andere Daniël 2 gebruik om die opstand teen die adellikes te regverdig. Hy het hom op Luther se standpunte beroep en in sy toespraak van Julie 1524 gesê: “Die tyd het aangebreek dat die onderdrukte Christene die Rots aan die rol kry.” Die opstand is onderdruk en Müntzer onthoof. Luther het hom van hulle gedistansieer.
In Engeland het volgelinge van Oliver Cromwell (1599–1658) tydens die Engelse burgeroorlog hulle op Daniël beroep en die naam “Fifth Monarchy Men” aanvaar; weer eens die siening dat hulle die vyfde godsryk tot stand moet bring. Die Engelse soldate, onder aanvoering van Cromwell, sou Europa binnestorm en die pous (die antichris) verslaan. Die Jode sou in die tussentyd na die Heilige Land terugkeer en die Turke verdryf. Die gebeure sou tussen 1655 en 1657 plaasvind. Die eindtydverwagting het egter ’n stadige dood gesterf toe die Engelse koning Charles II in 1660 aan bewind kom. Maar die jaar 1666 het gemoedere weer gaande gemaak. Die rede? Die getal 666!
In Rusland het die Russiese Ortodokse Christene geglo dat hulle die wettelose (die antichris) moet teëhou sodat hy nie sy verwoestingswerk kan aanrig nie. Hulle het die antichirs egter met die Turke van die Ottomanse Ryk verbind. As die “Derde Rome” (Moskou) sou val, sal dit die einde van die wêreld inlei.
Anders as die “Fifth Monarchy Men” van Engeland het hierdie groep nie die wederkoms probeer verhaas nie, maar probeer terughou! Probleme het egter onder Tsar Aleksei I (1645–1676) kop uitgesteek. Patriarg Nikon (hoof van die Russies Ortodokse kerk) het die tradisionele Russiese liturgie hersien sodat dit ooreenstem met die praktyk van die Grieks-Ortodokse Kerk. Die tsar het hom ondersteun. Groepe het beswaar aangeteken en dit as ’n ondermyning van hul verlossing beskou. Een groep wat hulleself die “Tradisionele Gelowiges” genoem het, het geglo dat hulle in die eindtyd leef en dat die tsar en die patriarg die dier van Openbaring 13 was. Hulle het besluit dat hulle liefs as martelare sal sterf as om die veranderinge te aanvaar. Hierdie groep het dikwels na hul houtkerk waarin hulle aanbid het, gevlug en dit aan die brand gesteek om nie in die hande van die tsar en sy magte te val nie. Daar word bereken dat ongeveer 20 000 gelowiges hulself in die sewentiende eeu op hierdie wyse in Rusland om die lewe gebring het.
Die Franse samelewing wat hoofsaaklik Katoliek was, het tussen 1670 en 1850 onstuimige tye beleef. Na byna ’n eeu van godsdiensstryd tussen Katolieke en Protestante is die Edik van Nantes (1598) afgekondig en kon Protestantse Christene sonder vervolging byeenkomste hou. In 1685 herroep koning Louis XIV egter die edik en godsdiensvervolging tree in. Die Franse Protestante (ook bekend as Hugenote) moes vir hul lewe vlug en het gereken dat die eindtye aanbreek. Byna ’n eeu later breek die Franse Revolusie (1789–1799) uit en Christene staan stomverbaas oor wat aan die gebeur is. Is dit die eindtye wat aanbreek, het van hulle gewonder? Sommige het selfs vir Napoleon as die antichris beskou.
Die idee van ’n vyfde koninkryk is deur sommige Engelse immigrante na Amerika geneem. Van hulle het geglo dat die vyfde koninkryk in Amerika tot stand gaan kom. Die Ierse biskop George Berkeley (1685–1753) het hierdie idee selfs gepropageer in sy ‘Verses on the Prospect of Planting Arts and Learning in America’. Daarin skryf hy die volgende woorde:
Westward the course of empire takes its way;
The fourth first acts already past,
A fifth shall close the drama with the day;
Time’s noblest offspring is the last.
Deur die eeue het die Amerikaners hulleself as God se uitverkore volk beskou en hul vyande as kinders van die bose. Hier ontspring dan ook telkens voorspellings van die eindtyd. Een van die belangrikstes is dié van William Miller wat voorspel het dat die eindtyd en die wederkoms tussen 21 Maart 1843 en 21 Maart 1844 sou aanbreek. Daar het natuurliks niks van gekom nie, maar ons hoor telkens vanuit die VSA dat mense die eindtyd voorspel. Een so ’n persoon is Hal Lindsey wat met sy boek ‘The Late Great Planet Earth’ (1970) – ook in Afrikaans vertaal – selfs Suid-Afrikaners op hol gehad het, want hy het geglo dat die eindtyd in 1988 sal aanbreek.
Gelukkig was daar mense wat tot die insig gekom het dat Daniël nie ’n profetiese boek is wat in die sesde eeu vC geskryf is nie, maar in die tweede eeu vC. Dis nou die standpunt wat Porphurius reeds in die derde eeu vC voorgestaan het. Die Engelse Deïs, Anthony Collins (1676–1729), was die eerste wat Porphurius gelyk gegee het. So het die Makkabeërhipotese nuwe lewe gekry. Maar dit het lank geneem voordat dit ’n aanvaarde teorie geword het. Duitssprekende Protestantse Ou-Testamentici het dit eers rondom 1890 as teorie aanvaar. Ander Protestantse geleerdes buite Duitsland het dit eers ná die Eerste Wêreldoorlog (1914–1919) aanvaar, terwyl Rooms-Katolieke geleerdes dit eers ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) aanvaar het. In Suid-Afrika het dit eers ná 1975 inslag gevind! En so het daar na etlike eeue ’n nuwe hervorming rondom die interpretasie van die boek Daniël tot stand gekom.
Daar is dalk ’n les te leer uit die wyse waarop Daniël deur die eeue verstaan is: Mense kan maklik op sleeptou geneem word wanneer hulle nie hul eie verstand en insig gebruik nie. Ook dat die meerderheid nie altyd korrek is.
[Dankie aan Sakkie wat self die Opsomming verskaf het]