Vandag presies 75 jaar gelede, op 24 Maart 1944, het ‘The Great Escape’ (Die Groot Ontsnapping) plaasgevind.

[Skyfie 1 – Opening]

Dit word as een van die belangwekkendste insidente van die Tweede Wêreldoorlog beskou.

Ja, daar was vele noemenswaardige insidente, maar soos ek weldra sal aantoon, sou hierdie geval lank onthou word.

Ek wil my verstout om te sê die meeste van ons hier nog die Hollywood-rolprent ‘The Great Escape’ onthou wat in 1963 vrygestel is.  Die rolverdeling het name soos Richard Attenborough, Charles Bronson, en natuurlik die onnutsige Steve McQueen ingesluit.

[Skyfie 2 – Filmplakkaat]

Terloops, ek dink dit was tipies Hollywood:  te veel Amerikaans, feite verdraai, dalk juis vanweë die Koue Oorlog met Rusland.  Die waarheid is Amerikaners het slegs ‘n geringe rol gespeel en geen Amerikaners het daardie nag ontsnap nie.

Waarom dié geval so ‘n fassinasie vir my ingehou het (want ek was toe nog baie jonk), kan ek nie verduidelik nie.  Miskien die avontuur en waagmoed, maar dalk eerder die krygsgevangenes se uitsonderlike kreatiwiteit.

[Skyfie 3 – Feite kortliks]

Vir diegene wat dalk nie meer die besonderhede kan onthou nie, net kortliks (ons sal aanstons meer uitbrei):

‘n Groep Geallieerde krygsgevangenes in die Stalag Luft III-kamp in Nazi-Duitsland grawe in groot geheimhouding ‘n tonnel – eintlik drie tonnels (Tom, Dick en Harry) – onderdeur die draadheining om te ontsnap.  Hulle kry dit reg dat 76 van hulle, waaronder vier Suid-Afrikaners, die nag van 24 Maart 1944 na vryheid vlug.  Dit het egter dodelike gevolge, want die ontsnapping is tot op die hoogste vlak, aan Adolf Hitler homself, gerapporteer.

En hy het weerwraak gesweer.

Nou moet ek julle eers oriënteer, spesifiek oor die geografie en die geskiedenis.

[Skyfie 4 – Geografie- en geskiedenisles]

  • Europa se huidige grense lê anders as tydens die Tweede Wêreldoorlog.
  • Die westelike deel van die huidige Pole was destyds deel van Duitsland – eintlik ‘n provinsie van Pruise, genoem Silesië.
  • Trouens, die Pole noem dit vandag nog Silesië.
  • Die provinsiale hoofstad is Wrocław (uitgespreek Wrots-waf). Dit was destyds bekend as Breslau.

[Skyfie 5 – Geskiedenisles]

  • Breslau is tydens die Tweede Wêreldoorlog bykans totaal verwoes. Sommige bronne praat van 80% in puin gelê.
  • Die Beleg van Breslau in 1945: 82 dae
  • Gevegte tussen die Duitse weermag en die Russiese Rooi Lëer het nog voortgeduur nadat Berlyn reeds geval het.
  • Daar was eintlik etniese skoonmaak; verdrywing van die Duitsers en verskuiwing van etniese Pole uit ander streke.
  • Gelukkig is die stad mooi herbou, met behoud van die ou argitektuur:

[Skyfie 6 – Breslau / Wrocław]

  • Soos in hierdie skyfie te sien. Die foto links is Breslau in 1930 – toe dit nog Duits was, en my eie foto (regs) in Wrocław geneem;  agter sien ons die toring van die St Elizabeth-kerk.
  • Wrocław is ‘n moderne stad, met netjiese infrastruktuur. Hier is die stasie wat nog presies lyk soos indertyd in die Duitse era, toe  reuse Nazi-embleem voorop die gebou gepryk het (ek kom weer hierna terug wanneer ons oor die ontsnapping praat).

[Skyfie 7 – Wrocław]

  • As toeris kom jy eintlik maklik oor die weg. Die inwoners is vriendelik en heelwat is Engels redelik magtig.  Die stad is klein genoeg om te verken deur te stap, anders kan jy die trem gebruik.  ‘n Mens eet heerlik en relatief goedkoop.  Hoewel Pole deel van die EU is, gebruik hulle die Złoti, hul eie geldeenheid, wat aansienlik goedkoper is as die Euro.  Jy het wel ‘n Schengen-visum nodig.

[Skyfie 8 – Heerlike eetplekke en kos]

[Skyfie 9 – Wrocław Stadhuis]

  • Die stad is meer as 1 000 jaar oud en op die Oderrivier aangelê, wat deur die stad vloei. Dit het dikwels tot vloede met groot skade en lewensverlies gelei.
  • In die vroegste tye was die naam in elk geval Wrocław; Pole is deur alle eeue vanuit die ooste (deur Russe) en van die westekant (deur die Duitsers) gedruk.
  • Die ou Stadhuis – 13de eeu.

[Skyfie 10 – Platteland]

Die platteland is pragtig en netjies.

[Skyfie 11 – Na Żagań]

My navorsing oor ‘The Great Escape’ het gewys dat ons die dorp Żagań moes besoek wat vroeër as Sagan bekend was.  Dit is sowat 100 km noordwes van Wrocław en jy bereik dit met ‘n netjiese snelweg, die A4 – wat ons toe later sou uitvind deel van Hitler se Reichsautobahn na Berlyn was.

Hoekom juis Żagań?

Want dis hier waar die Luftwaffe oftewel Duitse lugmag, hul Stalag Luft III-krygsgevangenekamp vir Geallieerde lugmagoffisiere gebou het.  En dis waaruit 76 van hulle ontsnap het.

Interessant genoeg het Hermann Goering, hoof die Luftwaffe, gespog dat dié kamp ontsnap-bestand is, m.a.w. dat niemand daaruit sou kon ontsnap nie.

Stalag Luft III is die afkorting vir “Stammlager Luft” – oftewel ‘Permanente Kamp vir Lugpersoneel 3’

[Skyfie 12 – Roger Bushell – Baasbrein agter ‘The Great Escape’

 Die uitgangspunt van die Suid-Afrikaans-gebore Roger Bushell was dat krygsgevangenes die oorlog van “agter die draad” moet voortsit – op dieselfde wyse as wat hulle dit op die gevegsfront sou doen.

Squadron Leader (Majoor) Roger Bushell was die baasbrein en dryfveer agter Die Groot Ontsnapping.

Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie uitsonderlike man.

Bushell is in 1910 in Springs op die Oos-Rand gebore, die seun van ‘n Britse myningenieur wat die pos van algemene bestuurder van Daggafontein-myn in Springs beklee het (toevallig my geboortedorp en spesifiek Daggafontein-myn is waar ek my kinderjare deurgebring het)!

[Skyfie 13 – Bushell-gesin]

‘n Algemene bestuurder in daardie jare was ‘n baie belangrike persoon met ‘n paleis van ‘n ampswoning op ‘n landgoed, met ‘n swierige tuin vol groot bome, talle bediendes, tuiniers, ‘n motorbestuurder en ‘n magdom ander voorregte.

Vir die bekende skrywer en Nobel-pryswenner Nadine Gordimer –ook ‘n boorling van Springs – was die Bushells “aristokrate”.  Dis hoe sy in 2012 in ‘n TV-onderhoud gesê het.  Sy het snedig oor die lewe op die goudmyn en sy mynbewoners geskryf:

[Skyfie 14 – Nadine Gordimer]

It was an autocratic family, of course, and the social hierarchy, based on the hierarcy of working importance, provided the sense of order.  The General Manager’s in his residence;  all’s well with the world.

Ongetwyfeld sou hierdie hierargiese, aristokratiese bestaan die jong Roger se lewensuitkyk rig.

Ná sy laerskool-jare in Parktown in Johannesburg, is Roger op 13-jarige ouderdom by Wellington College, ‘n spogskool in Berkshire in Engeland, aanvaar.  Hier is Roger se leierseienskappe verder ontwikkel.

Hoewel sy pa verkies het dat hy ingenieurswese studeer, het Roger ‘n Regsgraad aan Cambridge verwerf.  Die naderende oorlog sou sy belowende loopbaan as advokaat totaal in die wiele ry.

[Skyfie 15 – Roger Bushell: Mededingende persoon]

Reeds as Cambridge-student was hy ‘n uiters mededingende sportman, veral in rugby, krieket en ski – en sou maklik Olimpiese kleure kon verwerf.  In die vroeë 1930s was hy kaptein van die Cambridge-skispan teen Oxford, en het ‘n gekombineerde Oxford-Cambridge-skispan in 1932 na Kanada gelei waar hy sy linkeroog in ‘n ongeluk met sy roekelose vaart beseer het.  Dit het sy een oog leep gelaat, wat hom somtyds “sinistêr” laat voorkom het.

Onder sy vriende in die Britse hoë kringe was Max Aitkin, seun van Lord Beaverbrook, wat hom aan ander aristokratiese jongmense voorgestel het.  Hoewel hy heelwat vriendinne gehad het, was sy groot liefde Lady Georgiana (kortweg Georgi) Mary Curzon wat later in ‘n ongelukkige huwelik beland en weer geskei het.  Sy het waarskynlik tevergeefs vir Bushell gewag wat toe reeds in Duitse hande beland het, nadat sy Spitfire-vegvliegtuig oor Frankryk afgeskiet is.

[Skyfie 16 – Bushell in Britse hoë kringe]

Sou dit om hierdie rede wees dat Roger Bushell met alle mag uit die onderskeie kampe waarin hy aangehou was, probeer ontsnap het?  By my is daar min twyfel dat dit wel die geval was.

[Skyfie 17 – Neergeskiet]

Bushell het in die sogenaamde Miljoenêrs-eskader van die Britse lugmag se ‘Auxiliary Air Force’ leer vlieg voordat hy bevel van No. 92 Eskader Koninklike Lugmag (RAF) geneem het.  Tot Bushell se ontsteltenis, is hy op sy eerste gevegsvlug (‘sortie’) op 23 Mei 1940 bokant Boulogne in Frankryk neergeskiet en gevange geneem.

Hy sou by twee geleenthede uit Duitse krygsgevangenekampe ontsnap voordat hy in Mei of Junie 1942 na Stalag Luft III verplaas is, waaruit hy byna twee jaar later sou ontsnap.

Aanvanklik is die krygsgevangenes, veral die lugmagoffisiere, met hoë agting behandel.  Die Duitse kampkommandante was dikwels uit die adelstand wat die vlieëniers van die Royal Air Force (RAF) as hul eweknieë beskou het.  In baie gevalle was hulle allermins Nazi-simpatiseerders, en het inderdaad heimlik groot minagting vir Hitler en sy trawante gehad.

[Skyfie 18 – Kampkommandant]

Dit was veral die geval met Stalag Luft III se bevelvoerder, Oberst (kolonel) Friedrich Wilhelm von Lindeiner.

(Foto bo links:  ‘n Switserse oorsig-inspeksie, met die Senior Britse Offisier (SBO), Kolonel Herbert Massey – middel, en Kol. Von Lindeiner – regs.  Lindeiner het ná die oorlog sy eie weergawe van die gebeure gepubliseer.)

In die beginjare van die Tweede Wêreldoorlog, het die kampkommandante die Britse lugmag-krygsgevangenes toegelaat om somtyds buite die kamp op parool te gaan, om kerkdienste by te woon of selfs te gaan ski.  In die Dulag Luft-kamp naby Frankfurt am Main het die kampkommandant Majoor Theo Rumpel die “Kriegies”, soos die krygsgevangenes genoem is, toegelaat om buite die kamp bessies te gaan oes.  Hy het die senior offisiere selfs in sy kwartiere op die beste geregte met sjampanje en konjak onthaal.  Dit sou die aptyt vir ontsnap demp, het hy dalk geredeneer.

Dit was ‘n denkfout.

Die uitstappies buite die kamp het juis die Kriegies geleentheid gegee om die omgewing deeglik te bespied met die oog op ontsnapping.  By geleentheid kon hulle selfs ‘n radio terugsmokkel.

Onder leiding van intelligente en dinamiese leiersoffisiere, soos Bushell, maar ook ander, is ‘n velerlei ontsnappings uitgevoer – meestal sonder sukses.  Dit het die Duitse kampowerhede toenemend geïrriteer, wat die ontsnaptes dan in die koelkas laat beland het – ‘n sel van afsondering met verminderde rantsoene.

Kort voor lank is die Britse Kriegies na ander kampe verskuif, onder andere Stalag Luft I in Pomeranië en later na die nuwe Stalag Luft III-kamp by Sagan in Silesië wat Herman Goering, die Luftwaffe se hoof, as “escape free” bestempel het – soos ek genoem het.

Hy sou nog sy woorde sluk.

In Stalag Luft III

[Skyfie 19 – Stalag Luft III]

Voordat Bushell in Mei of Junie 1942 na Stalag Luft III gestuur is, het hy uit twee ander kampe ontsnap en was vir ‘n geruime tyd in Praag op vrye voet.  Ongelukkig het iemand hom en die gesin wat hom gehuisves het, verraai.  Die Tjeggiese familie is tereggestel, terwyl Bushell drie maande lank deur die Gestapo ondervra is.

Van die offisiere in Stalag Luft III wat hom vroeër geken het, was van mening dat Bushell hierná koud en afsydig geword het.  Die Senior Britse Offisier (SBO) in die kamp het hom egter gou aangestel as “Big X”, die offisier in beheer van die “X”-organisasie wat vir ontsnappings verantwoordelik sou wees.

Daar is aanduidings dat Bushell heimlik ook vir MI9, oftewel die Britse Militêre Inligtingsafdeling, gewerk het.  Vir hom was dit ‘n gevaarlike situasie, omdat enige vorm van spioenasie deur krygsgevangenes strydig met die Geneefse Konvensie was.  Hierdie konvensie beskerm krygsgevangenes teen mishandeling.

Bushell het sy tyd afgewag met die konstruksie van ‘n tonnel, want 850 krygsgevangenes sou in April 1943 na die noordelike sektor van Stalag Luft III verskuif word, wat in daardie stadium in aanbou was.

Van die Kriegies is reeds vroeg toegelaat om daagliks soontoe te gaan om solank ‘n teater in te rig waarin hulle gereeld opvoerings sou aanbied.  Selfs die Duitse kampowerhede het dit bygewoon, dikwels in die voorste gestoeltes.

Hul daaglikse uitstappies het egter goeie geleentheid gebied om ontsnappingstoerusting te versamel.  Sodoende kon hulle gereedskap soos tange, hamers, sae en selfs grawe en ook elektriese draad, wegsteek vir latere gebruik.

Die noordelike kamp het uit 15 houthutte, wasgeriewe, kombuis, brandpoel, die teater en sportveld bestaan.

[Skyfie 20 – Lewe in die kamp – teater]

Onder Bushell se leiding is onmiddellik begin om drie tonnels te grawe, genoem Tom, Dick en Harry.

Soos hy aan die “X”-organisasie verduidelik het:

[Skyfie 21 –

I’ve decided on three tunnels, because I like the asymmetry of the figure three.  The Germans will probably find one of these tunnels – maybe even two – but the third gives us a light break.

Sy oogmerk was om op die eerste nag 200 Kriegies te laat ontsnap en indien die tonnel dan nog nie ontdek is nie, selfs meer.  Hy het gehoop om soveel as 600 te laat ontsnap.

Hiermee wou hy die Duitsers ‘n gevoelige slag toedien;  die krygsgevangene se filosofie van die “oorlogsfront tot by die doringdraad bring.”

[Skyfie 22 – Bushell-karakter]

Roger Bushell was die geskikte persoon om hierdie reuse taak te verrig.  Sy persoonlikheid was van so ‘n aard.

Een offisier het hom beskryf as “taciturn” (onspraaksaam), ander weer as “stern, cold, aloof”.

“A man who said very little, who always looked rather grumpy and irritable and didn’t communicate with anyone at all unless he was directly talking to them…”

‘n Ander een het prontuit gesê:

“I didn’t find him an agreeable character.  I didn’t find him likeable.  He must have got things done but I had nothing to do with him.”

Tog het ander groot respek vir Bushell gehad.  Richard (Dick) Churchill (nie familie van Eerste Minister Winston nie) het genoem dat hy charisma gehad het, “a great deal of authority.”

Selfs ‘n Duitse offisier van Stalag Luft III het lank ná die oorlog van Bushell gesê:  “the finest man I ever knew.”

Dit was natuurlik veral diegene wat Bushell se passie vir ontsnapping gedeel het, wat hom sou ondersteun.

[Skyfie 23 – Ontsnap of nie?

 

Daar bestaan ‘n mite dat ál die Kriegies ‘n intense begeerte gehad het om te ontsnap.  Inderwaarheid was daar ‘n groot aantal wat maar die oorlog wou deursien in die relatiewe gemak en veiligheid van die krygsgevangenekamp.  Dis ook ‘n mite dat hulle verplig was om te ontsnap;  daar was geen sulke amptelike opdragte nie.

[Skyfie 24 – Etiese vraag]

By my kom die vraag, ‘n etiese vraag, na vore:

Mag jy ander se lewe in gevaar stel om jou eie oogmerk te bereik?

Want Bushell het dalk ‘n eie oogmerk gehad (Georgi?) en hy was juis besig om tot soveel as 600 manne se lewe in gevaar te stel!

Hoe is die ontsnapping uitgevoer?

Bushell en sy “X”-organisie het die hele projek natuurlik in groot geheimhouding beplan en uitgevoer.  Dink daaraan dat die Duitse owerhede en wagte juis op ontsnappogings bedag was en sulke pogings sou probeer fnuik.  Daar was ondergrondse mikrofone om enige grawery te verklap, onverwagte inspeksies en deursoekings, en nog wat.

[Skyfie 25 – Beplanning]

 

Neem in ag dat ‘n vertikale skag gegrawe is, waarná die tonnels horisontaal op ‘n diepte van 10m onder die kampterrein uitgemyn is.  Uiteindelik sou die tonnel Harry meer as 340 voet (sowat 105m) ver gegrawe word, tot anderkant die grensdraad waar dit in ‘n vertikale skag bo die grond sou uitmond.  Honderde tonne sand moes daaruit gemyn en bogronds verwyder word – sonder dat die wagte dit bemerk.

Hoe is dit gedoen?

[Skyfie 26 – Uitvoering 1]

Weer eens was daar kreatiewe idees.  Een van mees kreatiewe (skynbaar van ‘n Suid-Afrikaner) was ‘n worsvormige sloop, wat binne-in ‘n Kriegie se broekspype gehang het.  Aan die onderkant was ‘n skuifspeld.  Die wors is met tonnelsand gevul.  Met behulp van ‘n toutjie wat die skuifspeld moes uittrek, is die sand uitgelaat terwyl die ‘Pikkewyn’ (soos hulle genoem is) in hul groentetuin rondstap, of op parade gemarsjeer het.

Die grawery was fisiek uitputtend en sieldodend, maar bowenal uiters gevaarlik, want die sandgrond het telkens op die myners ingestort.  Daarom is bedplanke as bekisting gebruik.  Aanvanklik was beligting verskaf deur kerslampe (gemaak van margarien of kosvet van die kombuis), wat later met gloeilampe, bedraad met gesteelde elektriese kabel, aangevul is.

Trollies op houtspore in die tonnel is gebruik om die sand na die ingangskag te stuur.  Vandaar moes dit na buite geneem word om te versteek.  Van die sand is ook in die tonnel Dick geberg wat noodgedwonge gestaak is toe die Kriegies opmerk dat ‘n nuwe kamp aan die westekant in aanbou was waar Dick sou uitmond.

 [Skyfie 27 – Uitvoering 2]

[Skets wys die kamp en waar die tonnels gegrawe is.]

Baie sand is later ook in die teater se ouditorium versteek.  Dit is saans soontoe gedra wanneer minder wagte aan diens was.

Terwyl die tonnels gegrawe is, het ‘n groot aantal helpers in die geheim ander take verrig om die ontsnaptes se kanse buite die kamp te verhoog.  Die ontsnappingspoging het feitlik ‘n industriële omvang aangeneem.

[Skyfie 28 – Vervalsings]

Die Kriegies sou dokumentasie benodig indien hul ontsnapping slaag.  Derhalwe het die helpers vals ID’s, werkpermitte, klarings, passe, en dergelike dokumente vervaardig.  Siviele klere is ingesmokkel of uit ou uniforms gestik  en gekleur, roetekaarte is geteken, asook kompasse gebou.  Elkeen moes ook ‘n dekstorie memoriseer in geval hulle voorgekeer sou word.

Sekuriteit was van die grootste belang.  Onder die Kriegies was daar ‘n groot aantal wat spesifiek aangewys is om alarm te maak as die wagte in aantog is.  Dit het behels dat die hele “fabriek” soms inderhaas gestaak moes word.

Hierdie poging het etlike honderde Kriegies maandelank besig gehou.

Uiteindelik breek 24 Maart aan;  die dag waarop hulle sou ontsnap.  Dit is bitterkoud en swaar sneeu val buite.  Bushell en die “X”-organisasie het oorweeg om uit te stel, maar die vervoerpermitte het reeds ‘n gedrukte datum gehad.  Hulle sou noodgedwonge moes voortgaan.

Maar kom ons kyk eers na die ander Suid-Afrikaners.

Benewens Roger Bushell, was hulle Neville McGarr, Johannes Gouws en Rupert Stevens.

Hulle aandeel, soos trouens die ontsnapping self, het ná die Tweede Wêreldoorlog feitlik in vergetelheid geraak, ironies genoeg juis vanweë destydse binnelandse politiek.

Net kortliks:

Dit is reeds oorbekend dat Suid-Afrika se toetrede tot dié oorlog in 1939 die land se Afrikanergemeenskap erg verdeel het.  Vir diegene wat deelname aan die kant van die Geallieerdes (spesifiek Brittanje) teengestaan het, was enige heldeverering van die gewapende magte bykans gelykstaande aan verraad.

Derhalwe is die aandeel van Suid-Afrikaanse soldate in die Geallieerde oorwinning in die na-oorlogse jare soms doelbewus op die agtergrond geskuif.  Dit was ook die geval met die rol wat hierdie Suid-Afrikaanse vlieëniers in die noemenswaardige ontsnapping gespeel het.

Luitenant Clement Aldwyn Neville McGarr (26) is in Johannesburg gebore maar het in 1923 saam met sy familie na Durban verhuis. Aan die Glenwood Hoërskool het Neville toekennings vir akademie en sport ontvang, en vir sy skool in die 1ste span uitgedraf.

 [Skyfie 29 – Neville McGarr]

Wat sy verhaal so treffend maak, is dat hy op 12-jarige ouderdom deur polio verlam is en van nuuts af moes leer loop.

Soos Bushell, was Luitenant Neville McGarr ‘n vegvlieënier, maar by No. 2 Eskader SA Lugmag.  Dit is die bekende “Vlieënde Cheetahs” wat steeds bestaan.

Tydens ‘n patrollievlug op 6 Oktober 1941 naby die Libiese grens met Egipte is sy Amerikaans-geboude Curtiss P-40 Tomahawk deur Duitse Messerschmitt Bf 109-vegvliegtuie aangeval en neergeskiet.

Hoewel hy veilig met ‘n valskerm geland het, was hy sy een skoen kwyt en genoodsaak om daarsonder drie dae lank met feitlik geen kos of water in die woestyn na die Geallieerde linies te loop.

Ongelukkig is hy enkele kilometers voordat hy veiligheid sou bereik, gevange geneem.

Daar het hy aangebied om met tonnelwerk te help, maar vanweë sy groot liggaamsbou is hy eerder as brandwag aangewend om alarm te maak wanneer Duitse wagte in die nabyheid was.

Johannes (‘Boetie’) Gouws (24) was die oudste seun van ‘n Afrikaanssprekende plaasgesin op Bultfontein in die Vrystaat.  Boetie se skoolopleiding het in die plaasskool begin,  waarná hy Bultfontein Hoërskool toe is.  Hier het hy goed presteer in sport en was ondermeer rugbykaptein tydens ‘n 1937-toer deur die Kaap.

Sy ambisie om by die Suid-Afrikaanse Lugmag aan te sluit is byna gekelder.  Die lugmag wou hom nie aanvaar nie, vanweë sy gebrekkige Engels.

[Skyfie 30 – Johannes ‘Boetie’ Gouws]

Daarom het hy eers vir ‘n BSc.-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ingeskryf en sy taalvaardigheid probeer opskerp.

In 1940 was hy suksesvol met sy aansoek om in die lugmag te leer vlieg en het in 1941 sy vlerkies ontvang met die rang van Tweede Luitenant.  In diens van No. 41 Eskader SA Lugmag in Abessinië moes hy met sy Hawker Hartbees-vliegtuig ‘n noodlanding doen vanweë ‘n brandstoflekkasie.  Ongelukkig het die vliegtuig vooroor geslaan en Gouws in die wrak vasgepen.  Sy bemanningslid en ‘n plaaslike boer het hom uit die penarie gered.  Hy het 500km ver gestap om weer by die Geallieerde linies te kom.

Later het Boetie by No. 40 Eskader in Suid-Afrika aangesluit voordat sy groep na Egipte verplaas is.  Uit hierdie eskader is ses vlieëniers gekies om by No. 208 Eskader RAF aan te sluit om met nuwer vliegtuie die Britse Agtste Leër in die verkenningsrol te ondersteun.

Dit was op 9 April 1942 dat Johannes Gouws in sy Curtiss P-40 Tomahawk-vegvliegtuig (net soos Luitenant Neville McGarr) deur twee Messerschmitt Bf 109-vegvliegtuie aangeval is.  Boetie het sy vliegtuig ‘n buiklanding laat doen en hy is gevang.

Wat hy nie kon weet nie, is dat sy teenstaander wat hom afgeskiet het, een van die Luftwaffe se voorste vegvlieëniers was, Gustav Rödel, wat uiteindelik 97 Geallieerde vliegtuie op sy kerfstok gekry het.

[Skyfie 31 – Rupert Stevens]

Hoewel Rupert John Stevens (25) in 1919 in Londen gebore is, het hy as kind saam met sy ouers na die Kaapprovinsie geëmigreer.  Hy het in 1936 aan die South African College School (SACS) gematrikuleer en twee jaar later hy as leerlingvlieënier ingeskryf.  Hy het sy vlerkies ontvang net voordat die oorlog uitgebreek het.

Stevens het gevolglik by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit en in 1940 by No. 12 Eskader SA Lugmag in die Westelike Woestyn diens gedoen.  Sy Martin Maryland-bomwerper is deur lugafweervuur getref en hy het na Tobruk gemik om ‘n noodlanding te doen.

Ongelukkig het hy hom misgis deur na ‘n vyandelike dorp te vlieg, waar sy vliegtuig opnuut deur grondgeskut getref is.  Met Stevens gewond en bewusteloos, het die vliegtuig neergestort.  Sy navigator is dood, maar hy het die ongeluk oorleef en het in ‘n Duitse hospitaal aangesterk voordat hy na Stalag Luft III gestuur is.

Hier het hy met ‘n vroeëre ontsnapping gehelp deur saam met ‘n groep Kriegies voor te gee dat hulle liggaamsoefeninge doen, terwyl twee manne versteek onder ‘n gimnastiek-bok of ‘houtperd’ besig was om ‘n tonnel digby die draad te grawe.  Dit was een van die min suksesvolle ontsnappings uit die kamp, waarskynlik omdat slegs drie manne betrokke was.

Die ontsnapping

Ek het reeds genoem dat dit die dag van 24 Maart gesneeu het en bitter-koud was.  Trouens, die uitgang se deksel het vanweë die nattigheid uitgeswel en kon eers na twee ure oopgemaak word, wat ‘n mate van paniek veroorsaak het.

Maar toe ontdek die eerste Kriegie om te ontsnap dat die tonnel- uitgang dalk effe te kort geskiet het.  Dit moes dieper in die dennebos uitgemond het.

[Skyfie 32 – Nag van 24 Maart 1944]

Hierdie kwessie word taamlik omvangryk in my navorsingsbronne gedebatteer;  sommige is van mening dat dit ‘n probleem was, soos in die rolprent ‘The Great Escape’ uitgebeeld is.

Ander bronne wys die teendeel, m.a.w. dat eerstehandse beskrywings van die ontsnappers self min of geen melding van so ‘n probleem maak nie.

Wat wel ‘n probleem geword het terwyl die ontsnapping in volle swang was, is ‘n kragonderbreking.  Die Britse lugmag het juis daardie nag ‘n bomaanval op Berlyn geloods, wat Stalag Luft III genoop het om die ligte uit te doof.  So is die tonnel se beligting noodwendig ook afgeskakel.

Sommige Kriegies in die tonnel het weens engtevrees paniekerig geraak, in so ‘n mate dat hulle van die bekisting uitgeskop het.  Kerse is inderhaas aangesteek en die sand wat ingestort het, is met moeite weer verwyder.

Dit alles het lang vertragings tot gevolg gehad.  Uiteindelik het slegs 76 Kriegies ontsnap voordat die tonneluitgang ontdek en alarm gemaak is.

[Skyfie 33 – Oriënteer – Stalag Luft III]

Net om julle te oriënteer:  dié lugfoto is ná die ontsnapping op 17 September 1944 deur die RAF geneem.

Sagan-stasie is bo met die dennebos tussen die stasie en die kamp.  Harry is in rooi aangedui.

Kolonel Von Lindeiner was buite homself van woede en het die Kriegies – wat in die snerpende koue vir ‘n oproeptelling (‘roll call’) moes aantree – gewaarsku dat die massa-ontsnapping ernstige gevolge sou hê.

[Skyfie 34 – Ontsnapping ontdek]

Dit was ook só.

‘n Ongehoorde groot soektog of massavangnet (‘manhunt’ – in Duits ‘Gross Fahndung’) is afgekondig, wat alle owerheidsinstansies betrek het, van spoorwegamptenare en hospitale, die tuiswag, hawe-personeel, tot polisie en grenspatrollies.

Dit sou nie lank duur voordat 73 van die ontsnaptes aangekeer word nie.  Slegs drie manne, ‘n Nederlander en twee Noorweërs, het uiteindelik vryheid in Engeland gesmaak.

Soos Kolonel Lindeiner gewaarsku het, sou dié massa-ontsnapping lei tot ‘n gruweldaad wat met skok en afgryse begroet is.  In persoonlike opdrag van Adolf Hitler is 50 van die ontsnaptes koelbloedig doodgeskiet.  Dit is lynreg in botsing met die voorwaardes van die Geneefse Konvensie.

[Skyfie 35 – Hitler se woede en vergelding]

(Teregstelling op die foto is nageboots vir hofsaak.)

Die Britse regering sou dit nie daar laat nie.

Hoe het ons vier Suid-Afrikaners gevaar?

Op grond van sy taalvaardigheid in Duits en Frans was Roger Bushell een van die eerstes om deur die tonnel uit te glip.

[Skyfie 36 – Bushell en kie.]

Saam met sy mede-ontsnapper Luitenant Bernard Sheidhauer van die Vry-Franse Lugmag, het hy in Sagan-stasie treinkaartjies na Breslau gekoop waarvandaan hulle verder na Frankryk sou reis.  Bushell was vermom as ‘n buitelandse sakeman, en tot hul krediet moet gesê word dat hulle die verste sou reis van die hele groep van 76.

[Die stasie by Żagań – bo – lyk waarskynlik steeds soos in 1944].

Feitlik binne sigafstand van die grens by Saarbrücken, is hulle deur die polisie voorgekeer.  Skynbaar is hul dokumentasie in orde gevind, maar toe het die polisie vermoedelik met ‘n groet in Engels vir Sheidhauer uitgevang.  (Of dit so gebeur het, is moeilik om te sê;  dis wel hoe die rolprent dit uitgebeeld het).

Hulle is onmiddellik aan die Gestapo, oftewel Geheimestaatspolizei, oorhandig.  Onder die voorwendsel dat hulle na Sagan teruggeneem word, is hulle per motor weggeneem en langs die snelweg van agter geskiet.

Rupert Stevens en ‘Boetie’ Gouws was ook onder die eerste tien Kriegies uit die tonnel en het na Sagan-stasie gehaas om na Switserland te probeer vlug.  By Breslau het elkeen sy eie koers ingeslaan, maar albei is op 29 Maart tydens ‘n dokumente-ondersoek deur die polisie uitgevang.  Hulle was vier dae op vrye voet.

Ook hulle is daarná koelbloedig deur die Gestapo vermoor en veras.

Die nag van die ontsnapping het die groot Neville McGarr vir ‘n wyle in die tonnel vasgesit, waarna hy – soos baie ander – te voet verder gevlug het.  Juis vanweë die diep sneeu en ysige weer is hy gou gevang en na Görlitz-gevangenis gestuur, vanwaar hy en vyf ander ontsnapte gevangenes op die oggend van 6 April 1944 weggeneem en doodgeskiet is.

Ook hulle is feitlik onmiddellik veras, sodat die omstandighede van hul dood moeilik bewys sou word.

Volgens bronne het die Gestapo die ashouers van die 50 slagoffers maande later in die nag by Stalag Luft III in ‘n privaatmotor kom aflewer.

[Skyfie 37 – Naskrif]

Die houers is in ‘n spesiale gedenkmonument geplaas wat met die waarnemende kampkommandant se goedkeuring daarnaby opgerig is.

Daar is inderdaad moeite gedoen om die skuldiges aan te keer.  Op 23 Junie 1944 het die Britse buitelandse minister Anthony Eden die regering se “ferm voorneme dat hierdie gemene kriminele tot die laaste man gesoek sou word waar hulle ookal sou wegkruip” aangekondig.

‘n Oud-speursersant en lugmagveteraan Majoor Francis McKenna was in 1945 reeds in diens van die Royal Air Force (RAF) se spesiale ondersoektak.

Sy taak was geensins maklik nie, want die oorwonne Nazi-Duitsland was onder beheer van Britse, Amerikaanse, Franse en Russiese magte.  McKenna het min hulp gekry omdat veral die Amerikaners en Russe nie regtig ‘n belang by die saak gehad het nie.

Erger nog, senior Nazi-soldate het in die na-oorlogse chaos met vals identiteite tussen duisende ander “verdwyn” om aanspreeklikheid te vermy.

Tog het McKenna die Gestapo-lid Emil Schulz van Saarbrücken uitgewys as die een wat Roger Bushell vermoor het, asook dr Leopold Spann wat die Fransman Bernard Scheidhauer doodgeskiet het.

[Skyfie 38 – Moordenaars]

Hy kon ook bewys dat Johann Schneider van die Münchense Gestapo die lewens van Johannes Gouws en Rupert Stevens beëindig het.  Saam met hom was Eduard Geith, Emil Weil en Martin Schermer.  Wat Schneider en sy trawante se daad soveel erger maak, was dat hulle geld – en ‘n armhorlosie – van die twee slagoffers gebuit het, waarmee hulle vir die verassing van Gouws en Stevens betaal het!

McKenna se soektog na dr Oswald Schäfer, Schneider se onmiddellike hoof, het aanvanklik niks opgelewer nie.  Hy is wel in 1950 opgespoor en die RAF wou hom aankla, maar sy saak is in 1968 laat vaar.  Hy het nooit vir sy dade geboet nie.

Neville McGarr is saam met verskeie ander manne uit die Görlitz-gevangenis geneem en doodgeskiet.  Daar is nooit vasgestel wie daarvoor verantwoordelik was nie.

Die aangeklaagdes het aangevoer die krygsgevangenes is geskiet toe hulle wou ontsnap.  McKenna se ondersoek het die teendeel bewys. Daar is ook aangevoer dat hulle dit in opdrag moes doen.  Indien hulle sou weier, kon dit ernstige gevolge vir hulself en hul families inhou.  Hierdie argumente is deur die hof verwerp.

Schulz en Schneider, tesame met Geith en Weil, asook ‘n aantal van die ander moordenaars, is op 27 Februarie 1948 in Hameln tereggestel.  Schermer het selfmoord gepleeg, terwyl dr Spann tydens ‘n lugaanval in 1945 gesterf het.

[Skyfie 39 – Żagań-museum]

[Skyfie 40 – Die name]

[Skyfie 41 – The Fifty

Die vier Suid-Afrikaners se oorskot is saam met dié van 42 ander in die Ou Garnisoen-begraafplaas in Poznań, Pole, begrawe, terwyl almal se name steeds op die gedenkmonument by Żagań te sien is.

Om af te sluit, 50 jong manne is doodgeskiet.  Roger Bushell – en miskien ook sy Ontsnapkomitee – het geweet, is selfs gewaarsku, dat ‘n massa-uitbraak gevolge sou hê.

Ek vra myself steeds die vraag:  Mag jy ander mense se lewe willens en wetens in gevaar stel?

[Skyfie 42 – Poznań-begraafplaas]

Dankie vir julle belangstelling.