Wat ‘n spesiale naweek was 11 – 13 September vanjaar! Uitnemende aanbiedings, stimulerende geselskap, gesellige kuiers, goeie verblyf en heerlike kos.

Onder Deon van Zyl se knap leiding het ons – soms baie kreatief – gedink oor vier belangrike aspekte wat die tema van vanjaar se seminaar uitgebou het: Wysheid en Perspektief, Kreatiwiteit en Improvisasie, Omarm diversiteit en Hoop en Optimisme. Elk hiervan sal in die toekoms van die deelnemers ryklik bydra tot ‘n lewe met meer betekenisvolle ervarings.

Tydens die sessie oor kreatiwiteit het Deon ‘n kort demonstrasie gedoen oor hoe daar eintlik gebreinskrum behoort te word om maksimum idees in die kortste tyd te laat vloei. Die kernvraag vir die aktiwiteit was: “Op watter praktiese wyses kan ons die lewe met betekenisvolle ervarings vier?”

Na ‘n paar kreatiewe opwarmingsaktiwiteite, en ‘n paar verdere stimuli, is 361 idees in 8 minute deur 28 deelnemers gegenereer, wat in die volgende tema’s verdeel kan word:

  1. INTERPERSOONLIKE VERHOUDINGS

GESAMENTLIKE AKTIWITEITE EN SOSIALE VERKEER

Spandeer tyd saam met familie, vriende en betekenisvolle ander mense (lekker gesels, lag, tema partytjies, dans en vrolikheid, bordspeletjies, grappe deel, gereelde oproepe, saam aan tafel eet, bou iets saam, versamel mooi herhinneringe ens.).

  • Kook saam (met ‘n vriend, as familie).
  • Meer interaksie met jong mense (lees/vertel stories, speel of doen kreatiewe aktiwiteite saam met kinders/babas, gesels met kinders, ry boot saam, ry op die agterkant van die bakkie saam, visvang, klei osse ens.).
  • Meer interaksie met ouer mense (doen ouma se hare, gesels oor hulle lewens met hulle, neem hulle uit ens.).
  • Vind en beoefen ‘n gesamentlike stokperdjie met iemand anders (tuin, kook, sport, D.I.Y. ens.).
  • Maak nuwe vriende, ook met ander belangstellings as jouself.
  • Bel ‘n ou vriend en/of hernuwe ‘n ou vriendskap.
  • Luister na ander – vra vrae, kry ander se idees en opinies.
  • Beoefen meer empatie met ander. Deel gevoelens openhartig.
  1. EKSPLORASIE, VERWONDERING, PERSOONLIKE GENIETINGE EN PASSIES
  • Doen iets wat vir jou aangenaam is – herlaai jou batterye (speel met jou hond, klim boom, lê op jou rug en kyk na die wolke/sterre, son opkoms, sonsondergang, spring trampoline, ry fiets by die see, stap in die veld, rotsklim, skulpies soek, wild besigtig ens.).
  • Begin ‘n nuwe projek volgens jou talente (besigheid, skryf, teken ‘n strokiesprent ens.).
  • Wees betrokke by gebeure – neem fotos of maak skilderye (wees visueel daar), rapporteer gebeure deur woorde (verslag, oorvertelling), kyk na skulpe by die see met ‘n vergrootglas ens.
  • Woon meer lewende gebeure by (konserte, musiekfeeste, woordfeeste, opvoerings, toneel/teater, simfonie konserte ens.).
  • Ervaar dinge d.m.v. jou tassintuig (standbeelde, die natuur, eet spookasem met nat hande ens.).
  • Leer eet ‘n heel nuwe gereg.
  1. INTELLEKTUELE STIMULASIE EN UITBREIDING VAN VAARDIGHEDE
  • Skep gereelde geleenthede vir sinvolle gesprekvoering oor betekenisvolle onderwerpe – raak deel van interessant groepe, interessante sprekers/lesings ens.
  • Bestudeer die kosmos/sterrestelsel en die mikrowêreld – kry ‘n teleskoop en ‘n mikroskoop.
  • Leer ‘n nuwe taal (alleen of saam met ander).
  • Leer nuwe rekenaarvaardighede.
  • Leer ‘n nuwe musiekinstrument speel (doedelsak, dromme, fluit ens.).
  • Laat vaar die soeke na betekenis.
  • Maak “mindmaps”.
  • “Surf” Google.
  • Lees en deel gedigte.
  • Ondersoek ‘n nuwe veld van belangstelling – leer iets nuuts, leer van ‘n ander persoon se spesialiteitsgebied, ‘n nuwe sport, wyne, fotografie ens.
  • Selekteer en kyk na stimulerende films en TV programme.
  • Lees ‘n nuwe boek of sluit by ‘n boekklub aan.
  1. GENIET DIE NATUUR – BUITELUG AKTIWITEITE
  • Stap (op die strand, in die berge, veld, in die natuur tydens of na reën ens.).
  • Bewonder en ervaar die natuur (plante, diere, voëls, berge, son, wind ens.).
  • Kampeer en/of piekniek gereeld.
  • Grot eksplorasie.
  • Lugballon of “whitewater rafting”.
  • Skuba- of diepsee duik.
  • Speel jou gunsteling sportsoort.
  1. KREATIEWE EKSPRESSIE
  • Sing, dans (probeer iets nuuts en anders).
  • Skryf ‘n storie, boek of gedig.
  • Maak nuwe Dr Seuss rympies.
  • Skilder (abstrak, spontaan of spesifieke tegnieke).
  • Luister meer gerig na goeie musiek.
  • Maak dinge reg voordat jy dit wil weggooi – hergebruik.
  • Beverf ‘n wit muur in die motorhuis.
  1. TYD VIR SEREMONIE, STILTE EN ‘HIER-EN-NOU” WEES
  • Maak tyd vir meditasie/kontemplatiewe gebed.
  • Gaan op ‘n “retreat”.
  • Ontwerp ‘n ritueel/seremonie vir elke drempel geleentheid.
  • Skep rustige stil tyd sonder selfoon (lang bad, mooi musiek, naggeluide ens.).
  • Wees “mindful” sonder oordeel (leef en beleef hierdie oomblik, “mindful” inkleurboeke ens.).
  • Gee jouself alleentyd.
  • Skep harmonie en vrede in jou area van invloed.
  1. PERSOONLIKE EIENSKAPPE
  • ‘n Sin vir humor – sien die komiese in die alledaagse, moenie jouself te ernstig opneem nie.
  • Dankbaarheid vir wat jy het (elke dag, geliefdes, gesondheid ens.).
  • Optimisme – bestuur jou negatiewe selfspraak, hou jou bagasie lig, dra positiewe boodskappe oor, toekomsgerig, “kaptein van jou eie skip”, moenie modder gooi en wroeg nie, moenie aan realisme gebind wees nie – gaan groot (bv. Picasso).
  • Deursettingsvermoë – moet nooit moed opgee nie.
  • ‘n Sin vir skoonheid en mooiheid – soek dit oral.
  • Vergifnis – van self en ander.
  • Buigbaarheid/elastisiteit – wees bereid om “anders” te wees volgens die spesifieke vereistes van die situasie.
  1. WELWILLENDHEID, MEDEDEELSAAMHEID, MINSAAMHEID EN DIENSBAARHEID
  • Doen iets vir ander – “Random acts of kindness”.
  • Raak betrokke by maatskaplike opheffing (behuisingsnood – bouprojekte, vaardighede ens.).
  • Doen dinge met bejaardes (uitstappies, bingo, kuier ens.).
  • Wees behulpsaam op praktiese maniere – gaan soms uit jou pad om ander te help.
  • Demonstreer en leer probleemoplossing as ‘n vaardigheid aan ander.
  • Wees ‘n lewende voorbeeld van RSA se konstitusie.
  • Skep gespreksgeleenthede met ander bevolkingsgroepe.
  1. REISE EN BESOEKE
  • Besoek ongewone plekke (eksoties, in Afrika, in RSA waar jy nog nie was nie, huisboot op die mere van Afrika, Tamatiefees in Spanje, ou handelsroetes, Sjina, Rio Karnival, Russies Ortodokse Katedraal in Moskou ens.).
  • Gaan leef saam met ‘n ander kultuur (Hindus in Indië, Zulus in KZN, ZCC gebeurtenis ens.).
  • Besoek kunsmuseums.
  1. JOU ONMIDDELIKE OMGEWING
  • Maak jou lewensruimtes meer interessant/bevredigend/stimulerend.
  • Kyk na die energievloei in jou huis en ander geboue.
  1. FISIESE GESONDHEID
  • Beoefen gesonde eetgewoontes.
  • Fisiese oefening (swem, fietsry, stap, draf ens.).
  • “Savour” jou kos – proe, ruik, eet stadig.

Komplimenterend tot die seminaar was Saterdagaand se konsert uit eie geledere vol vermaak en spesiale dinge: meesleurende musiek, pragtige gedigte, vermaaklike staaltjies, interessante belewenisse en foto’s van onderskeie deelnemers.

Die naweek was ‘n uitstekende geleentheid vir verdieping van kennis, wysheid en vriendskap. Kosbaar!