Verkorte teks van ‘n voordrag voor die Sinode van Noord-Transvaal (2/9/03). deur Pieter Botha Agtergrond: SKLAS (Noord-Transvaal) het twee “nuwe hervormers” genooi om aan die sinode se bespreking van die “nuwe hervorming” deel te neem. Ringe is versoek om vrae in te stuur. By die sinode self het ons (ek en Pieter C.) elkeen ±20 minute elk gekry om die vrae te bespreek. Die geleentheid het goed verloop. Onderstaande is die teks van my bydrae. Ek het dit heelwat verkort maar dit is nog steeds laaaaank vir ‘n webwerfblad, so gaan kry eers ‘n koppie koffie (of …).

Inleiding: daar is te veel vrae voorgelê om elke een sinvol te beantwoord. Daar is in elk geval onbillikhede in sommige vrae (gebasseer op karikature en onkunde), asook ‘n vyandigheid wat veronderstel dat belydenisse en geloofspraktyke alles in kanne in kruike is, dat daar êrens ‘n “ons” is wat presies alles weet en as arme ek en Pieter en die ander nie so lekker verstaan nie, sommer gou-gou sal verduidelik wat die Here dink, hoe die Goddelike is en wat nodig is om te doen.

Die opvallendste kenmerk wat al die vrae deel is dat almal “wat” vrae is; daar is nie “hoekom” vrae nie. Dit is vreemd want baie ten opsigte van die “wat” is al baie gesê, is maklik verkrygbaar (veral vir professionele mense) en van die aspekte wat nou kamstig so problematies is, het ons en ons kollegas al vir baie jare navorsing gedoen en staan in ons publikasies van die afgelope 15 jaar en ouer.

Ek wil fokus op daardie “hoekom”. Hoekom neem ek deel aan die sogenaamde “nuwe hervorming gesprek”. Die “hoekom” plaas ook klem op dit wat ons deel . Ek is seker as ons verby die “kinders van Satan” en “moedswillig” en “onnosel” retoriek kan kom, ons waarskynlik sal agterkom dat ons eintlik nader as verder van mekaar af staan.

Ek wil drie sake bespreek: “hervorming”, historiese verstaan (of historiese kritiek, of historiese ondersoek, wat alles dieselfde ding is) en godsdiens (of geloof, of aanbidding, wat ook eintlik dieselfde ding is)

(1) Hervorming

Daar word gesuggereer dat dit voorbarig is om jouself ‘n “nuwe hervormer” te noem; dat dit pretensieus is om ‘n hervormer te wil wees.

Hoekom lyk ‘n kerkgebou soos dit lyk? Hoekom is die preekstoel op ‘n sekere plek — hoekom is die retoriek van die kerklike argitektuur wat dit is? Die dinge is wat dit is as gevolg van die oorneem van die Konstantynse ideologie. Dit reflekteer die oorname van die basilika, en die oorname van die regspreek van Romeinse magistrate. Dit was ‘n doelbewuste keuse deur ‘n beduidende groep Christene van die vierde eeu vír die keiserlike ideologie; ‘n aansluiting by “mag is reg”. Baie van daardie Christene het gedink dit is ‘n “christelike” uitlewing van geloof vir hulle tyd. Mag so gewees het, maar die vraag is of dit so kan wees vir vandag. Daardie aansluiting het — so weet ons vandag onbetwisbaar — veel skade aangerig. Die oorgang van die domus ecclesiae waarin maaltye genuttig is na die aula ecclesiae , die basilika, waarin patriargie en oorheersing uitgeoefen is, was nie vanselfsprekend nie.

Die eerste gelowiges wou, soos Jesus self geleer het, God se heerskappy sigbaar maak. Hulle wou wys hoe die lewe lyk as die God van sosiale geregtigheid koning is en hoe anders dit is as waar die die keiser se heerskappy sigbaar is.

So kom ons draai die beskuldiging om. Wat dink jý is verkeerd met die kerk? Is dit wat ons doen en bou en bepraat die oorvloediger geregtigheid waartoe Jesus ons uitgedaag het?

Wie is so voorbarig om te dink alles is reg? en dat God se heerskappy sigbaar is? Is ons praktyke huidiglik die beste waartoe ons in staat is? Is die belydenisse waarmee daar so graag gespog word enigsins uitdrukking van die geloof wat berge versit? Nee natuurlik nie. Die goed maak dan nie sin nie, en kan nie vir enigeen hier sin maak nie . Hoe kan ek so iets sê? Maklik: daar is nie meer een neo-platonis op hierdie planeet oor nie. En om te weet wat die verskil tussen Arius en Atanasius is, moet mens ‘n waardestelsel, ‘n wêreldbeeld van neo-platonisme gebruik om sin te maak van die dispuut tussen hulle. Om een van hulle se geloofsoortuigings jou eie te maak moet mens hulle filosofie, etiek en wêreldbeeld oorneem.

Dus: hoekom is daar nie ‘n vraag aan die sogenaamde nuwe hervormers in die trant van “hoekom praat julle nie meer nie?” Vanwaar die idee dat óns kerk nie hervorming nodig het nie? Wie is hier in Suid-Afrika, in die NedGeref kerk dan reformerende tradisie? Wie is nou eintlik pretensieus?

(2) Historiese kritiek

Historiese kritiek is die een element van enige waarheidsaanspraak wat nie uitgelaat kan word nie. Daar ís ‘n verskil tussen waarheid en leuen, en die verskil lê in skerp historiese kritiek . Hoe wil jý aanspraak maak op waarheid?

Die objektiewe, absoluut ware gebeure van die verlede is uiteraard vir geen mens toeganklik nie (ek neem nou aan daar is niemand hier wat ‘n goddelike gesigspunt het nie). Historiese ondersoek bring ons wel naby, by wyse van spreke, maar kan nooit self die oorspronklike saak wees nie. Geskiedenis is ‘n konstruksie , die beste, betroubaarste rekonstruksie wat mens kan maak van gebeure, deur gebruik te maak van krities getoetste getuienis, die toepassing van die bes moontlike wetenskaplike metode (wat kruis-kulturele inligting omvat) en dan selfkritiese historiese voorstellingsvermoë te benut. Die historiese ondersoek is veel eerder ‘n proses as wat dit finale antwoorde bied. In daardie proses om die geskiedenis te verstaan lê ontsettend baie religieuse waarde.

Dit is ‘n misverstand dat historiese kritiek negatief is, en alles kamstig “wegvat”. Inteendeel, historiese navorsing strewe na insig en begrip.

Kortliks die “maagdelike geboorte” bespreek, ter illustrasie. Historiese ondersoek — historiese kritiek — gaan oor verstaan, oor betekenis. Daarmee beklemtoon ek dat die uitspraak “dit het gebeur” is nog nie geskiedenis nie. Alvorens ons nie gevra het na die bedoeling , die betekenis van tekste en handelinge nie, is daar nog nie veel historiese insig nie. Dit word weereens ‘n etiese vraag, want ter wille van integriteit moet ons ook vra wat sê hulle . Morele integriteit noop ons om húlle te laat praat met húlle kulturele betekenisse.

Nie een van die evangeliste sê Jesus se afkoms of oorsprong as goddelik is uniek of enig as sulks nie . Hulle het nie gesê Jesus is die enigste wat ‘n maagdelike geboorte gehad het nie. Wat hulle vir hulle tyd en hulle lesers wou vra is nie of Jesus God is nie, maar watter God is ter sprake, want watter God bepaal watter leefwyse ter sake is.

Atia, Oktawianus se ma het die tempel van Apollo besoek, saam met ander vroue, vir ‘n middernagtelike diens. Sy het in haar drastoel aan die slaap geraak en ‘n slang het haar besoek (tussen haar bene opgeseil!). Toe sy wakker word het sy haarself gewas asof sy seks gehad het, ‘n geboortemerk het op haar lyf verskyn en 9 maande later is Oktawianus gebore (Suetonius Aug 94.4). Daarom het Oktawianus ook bekend gestaan as die seun van Apollo, en sinspeel die titel Augustus (o.a.) ook hierop. Die seun van Apollo, die krygs god!

Nou hoe besluit mens hieroor? Wat vir die een geld geld vir die ander. Nie een van die twee het ‘n bonatuurlike geboorte gehad nie. Die vraag is nie of Jesus ‘n onnatuurlike afkoms het nie, maar van watter God praat ons hier? Die vroeë Christene het Jesus se geboorteverhale vertel om in hulle tyd en plek, met hulle wêreldbeeld, ‘n keuse aan te dui: hier is ‘n lewensstyl wat die God van sosiale geregtigheid verteenwoordig. Net soos ook die priesters van die keiserkultus hulle merkwaadige verhale vertel het om hulle lewensstyl en prediking en evangelie te vertoon.

Dit het destyds ‘n hengse verskil gemaak wie noem jy seun van watter god , nie wie ‘n maagdelike geboorte gehad het nie. Immers Plato, Apollonius, Pythagoras (en andere) het almal gode vir pa’s gehad.

Lk 1.26–35 gaan nie oor Maria se ginekologiese toestand terwyl sy swanger was nie. Dit is juis onhistories om te beweer die teks leer ons dat Jesus ‘n unieke geboorte/ontstaan gehad het. Lukas het nie gedink dat Jesus anders as ander mense nie ‘n gewone pa gehad het nie . Lukas het wel gedink dat Jesus nie net nog ‘n godeseun is nie; dat om te sê dat Jesus Seun van God is, iets behels met vêrreikende sosio-politiese implikasies.

Is dit die God wat “in my geringheid na my omgesien het” (of in “my afkoms/sukses/magtigheid”?). Doen Hy kragtige dade wat “maghebbers van trone afruk en geringes verhoog”? “Oorlaai hy behoeftiges met goeie gawes en stuur rykes met leë hande weg”?

En in Matteus is die konteks weer die kinders van Abraham. God kan natuurlik kinders uit die klippe verwek, maar so maak hy nie sy Israel nie; nee hulle is die wat hoor én doen wat Jesus, Immanuel, geleer het.

<!–pagebreak–>

(3) Godsdiens

3.1 My pleidooi is dat ons heelwat nederiger oor God moet wees; oor ons kerklewe en oor wat ons sê ons geloof behels. Al opgelet hoe baie woorde in ons sogenaamde geloofstaal is net sirkelredenasies?

Wat is die “siel”? Dit is wat hemel toe gaan. Waar/wat is “hemel”? Dit is waar die siele is.
Wat is verlossing? Verlossing is verlossing van sonde. Wat is sonde? Dit waarvan jy verlos word.
Wat die antwoorde is, is nie vir my om te bepaal nie. Maar ons (die “nuwe hervorming”) wil ‘n ruimte, ‘n gespreksruimte, tot stand bring waarin ons saam kan soek na beter antwoorde. Of minstens net eerlik oor ons vrae te kan praat.

Daar is verbasend baie ander mense wat ook vermoed dat ons geloofstaal leeg is; dat eredienste en teologie vervelig geraak het; dat ons belydenisse sommer net dom is; wat gefrustreerd voel en wonder: kan dit wat ons hier doen nou aanbidding van God wees.

3.2 Die betekenis van woorde en die waardes vir mens se etiek is verweefd met wie jy is, wanneer en waar jy lewe. Hoekom Augustinus, Athanasius, Luther, Calvyn (en selfs Paulus) toelaat om kinders van hulle tyd te wees — maar ons mag nie kinders van óns tyd wees nie!

Daar is altyd ‘n dialektiek tussen teks en interpreteeerder. So was dit nog altyd. Die Skrif is juis nie ‘n afgehandelde, voltooide objek nie, maar woorde wat geïnterpreteer moet word. Elke groep in elke tyd moet opnuut daardie taak opneem en verantwoordelikheid aanvaar. Vir ons, met ons waardes en waarheidsopvattinge kan historiese interpretasie nie vermy word nie.

Ons strewe as Christene, en veral as Christelike teoloë in ons kontemporêre Westerse kultuur, behoort eerstens te wees die verstaanbaar maak van ons verhouding met God op ‘n manier wat sin maak in ons wêreld. Dit behoort ‘n poging te wees wat ons verhouding met God beoefen op ‘n manier wat aansluit by die res van ons benadering tot die lewe. “Can it really be the mission of Christian theology to think away, so to speak, the human person, as acting, responsible, and suffering? Can theology deny subjectivity as the main reference point for theological reflection?” (Rendtorff 1985:498).

3.3 Mistifikasie

Wie bou ‘n leefwyse, fel etiese beslissings, of gee sin aan ‘n gebeurtenis met “geheimenisse”? ‘n Beroep op ‘n geheimenis word nie in hofsake aanvaar nie. Stel jou voor die snydokter sê dat dit eintlik ‘n misterie is en ons vat maar ‘n kans met die skalpel… Misteries speel nie ‘n rol wanneer ons versekering uitneem of beleggings maak nie. Mistifikasie is vir elkeen van ons onaanvaarbaar wanneer ‘n afstootlike moraliteit geregverdig word [wie glo Barend Strijdom dat God hom beveel het om daardie 8 swartmense dood te skiet?] Die punt is eenvoudig: as mistifikasie onaanvaarbaar is in belangrike aspekte van die lewe, wat van in godsdiens? Is geloof dan nou minder belangrik as bogenoemde voorbeelde?

Dit is hoogs onverantwoordelik om te sê sommige goed is ‘n geheimenis en kan nie verstaan word nie. Die merkwaardige is dat dele van sulke misteries juis verstaanbaar is: hoe dit vroue bedons, ‘n sosio-politieke stelsel in stand hou, ens. Dis ‘n misterie (m.a.w., histories onkontroleerbaar) hoe God aan iemand verduidelik het om ‘n aaklige ding te doen, maar die effek van daardie misterie is uiters histories!

Mistifiseer is om iets moelik maak om te verstaan deur dit in misterie te hul. “Redelikheid [as kritiese refleksie] is daarop ingestel om alle soorte mistifikasies — ook konseptuele mistifikasies — te ontmasker en om die individu te bevry van verdraaide kommunikasie. Die samelewing behoort gedurig bewus gemaak te word van die feit dat dit die slagoffer is van sekere opvattinge en dat sommige van daardie opvattinge die menslike verbeelding verarm en sy vryheid onderdruk” (Degenaar 1990:29).

Vandag, in ons wêreld, lewe ons met ‘n historiese bewussyn. Mistifikasie, versluiering, weerhouding van inligting, ontkenning van historiese waarheid, minagting van kritiese ondersoek: die waardestelsel waarmee ons lewe maak sulke benaderings problematies en word ten strengste afgekeur.

3.4 Newelagtige sieligheid?

Die belang van historiese ondersoek/verstaan vloei voort vanuit die erkenning van historiese belewenis as fundamenteel vir menswees. En die klem op historiese belewing noop ons om ons liggaamlikheid ernstig op te neem. Dit is onmoontlik —absoblerrieluut onmoontlik — om die Goddelike in abstrakte spekulasie te ontmoet. Die Goddelike kan net histories belewe word.

My “siel” IS ook my liggaam. Die siel-liggaam dualisme is iets boos; dit minag God se skepping. Onthou waar die “siel” vandaan kom: ‘n opvatting dat die mens ‘n onsigbare maar diepste self “het” wat uit die liggaam vrygelaat moet word. Die sogenaamde ware mens is die verborge, “ideale” weergawe. As gevolg van hierdie opvatting het ‘n hele diskoers oor die “siel” (die kamstige “eintlike” mens) ontstaan en dáárdie diskoers het uiteindelik die liggaam gevange geneem.

In ‘n sin is dit ‘n eenvoudige vraag: Wat is belangrik: jy of jou siel? Spoke of historiese belewenis? Kyk na die sieleleer se “track record” — dis hoekom hervorming nodig is.

Veel godsdiens in ons NedGeref tradisie het in wese net te doen met wat voor die konsepsie van jou liggaam gebeur het (erfsonde) en wat na jou dood gaan gebeur (hemel of hel) en het eintlik bitter min met jou lewe en/of met God te doen. As geloof nie iets werkliks is, wat met ons lywe hier en nou te doen het nie, dan praat ons NIE van die geloof waaroor die Bybelskrywers vertel nie, en praat ons oor ‘n klein afgodjie wat mense se dienaar is (m.a.w. van ‘n god wat net ‘n mens se “heil” dien, wat ‘n mens se vrese in die sentrum plaas).
Opgedateer op : So 07 Aug 11