Deur: Sakkie Spangenberg

Vra enige Sondagskoolkind waar Jesus gebore is en jy gaan tien teen een die antwoord kry: ‘In ‘n stal in Betlehem’.

Jaar vir jaar voer mense in kerke en soms ook in laerskole die geboorteverhaal van Jesus op. Hierdie geboorteverhaal staan natuurlik nie in die Bybel nie — altans nie in die vorm wat dit opgevoer word nie. Die geboorteverhaal wat opgevoer word, vermeng nie net die gegewens van die evangelie van Matteus en Lukas nie, maar sommer ook ‘n handvol kerklike dogmas. Dis in werklikheid ‘n roereierverhaal wat opgevoer word. Niemand gee egter om nie, want terwyl die verhaal opgevoer word, word sulke mooi liedere gesing dat almal hulle verstand uit rat haal en meegevoer word. Dink net hoe mooi sing Boney-M die tradisionele Kersliedere — om nie eens te praat van ons eie Afrikaanse sangers en sangeresse nie: ‘Long time ago in Bethlehem, so the Holy Bible says, Mary’s boy child Jesus Christ was born on Christmas day.’

Maak dit nog sin om Jesus se geboorte te vier as ‘n mens afskeid geneem het van die tradisionele dogmas? Na my mening ‘ja’, want sy boodskap bly immers ook vir ons belangrik. Ons vier sy geboorte egter met ‘n ander doel. Ons vier dit nie met die doel om vir ander te vertel dat die enigste verlosser van die mensspesie homo sapiens jare gelede gebore is nie. Ons vier nie die ortodokse Christendom se boodskap oor Jesus nie, maar Jesus se eie boodskap dat God vir mense omgee. Ons kan steeds vir ons kinders die geboorteverhale vertel en hulle toelaat om dit op te voer. Maar ons voer doelbewus nie meer die roereierverhaal op nie. Ons kies doelbewus om óf Matteus óf Lukas se verhaal op te voer. Ons kan gerus ons kinders daarvan bewus maak dat daar twee verskillende verhale bestaan en dat ons die verskille wil respekteer, want elke skrywer het iets anders beoog.

Kom ons fokus hierdie Kersfees op die geboorteverhaal van Matteus en let op dit wat die skrywer oor Jesus wou kommunikeer.

Matteus se geboorteverhaal (1:18–2:23) gee te kenne dat Josef en Maria in Betlehem gewoon het en dat Jesus daar gebore is (Matteus 1:18–25). Kort hierna het daar wyse manne uit die Ooste by koning Herodus kom navraag doen oor die geboorte van die koning van die Jode. Volgens hulle het ‘n ster sy geboorte aangekondig. Herodus is totaal uit die veld geslaan wanneer hy hiervan hoor. (Vreemd dat hy nie die ster gesien het nie!) Skielik is nie net hy ontsteld nie, maar sommer die hele Jerusalem (bedoelende al die Joodse godsdiensleiers). Hy raadpleeg die Joodse skrifgeleerdes en priesterhoofde: ‘Waar sal die messias gebore word?’ Let daarop dat die wyse manne navraag doen na die koning van die Jode , maar Herodus doen navraag na die messias (vgl Matt 2:4). Slegs iemand wat noukeurig lees, sal die verskil raaklees. Die skrifgeleerdes antwoord Herodus deur uit Miga 5:1 aan te haal: ‘En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir die volk Israel ‘n herder sal wees.’

Kontroleer mens hierdie aanhaling deur terug te blaai na die Ou Testament is daar interessante verskille. In Miga 5:1 staan die volgende: ‘Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom, wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer.’

Matteus se weergawe het die volgende verskille: (1) Miga maak gewag van die clan Betlehem-Efrata, terwyl dit in Matteus lui Betlehem in die streek Juda . Die verwysing na ‘n familiegroep is verander na ‘n verwysing na ‘n streek. (2) Volgens Miga is Betlehem-Efrata van die kleinstes onder die families in Juda. Volgens Matteus is Betlehem beslis nie die kleinste onder die streke in Juda is nie . Die rede vir laasgenoemde wysiging hang moontlik saam met die feit dat die messias nou gebore is. Betlehem is nou beslis nie die kleinste nie .

Die eerste verskil hang weer saam met die Griekse vertaling van die Ou Testament. Die verteller haal nie uit die Hebreeuse teks aan nie, maar uit die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Wanneer die wyse manne in Betlehem aankom, gaan die ster botstil staan bokant die plek waar Jesus gebore is. (Ons glo nie vandag in reisende of dwalende sterre nie, maar in daardie tyd het hulle in sulke verskynsels geglo.) Die wyse manne gaan dan in die huis en vind Maria met die kind. Hierna haal hulle hulle geskenke uit hulle reissakke en keer dan na hulle land terug sonder om by Herodus ‘n draai te maak. Die feit dat die geskenke as goud, wierook en mirre beskryf word, het lesers verlei om te dink dat daar drie wyse manne was. Die Christelike tradisie het hulle selfs name gegee: Kaspar , Melchior en Baltasar . Daar is egter geen aanduiding in die teks hoeveel wyse manne daar was nie.

Nadat die wyse manne vertrek het, waarsku ‘n engel Josef in ‘n droom dat Herodus van plan is om Jesus te vermoor daarom word hy aangeraai om met Maria en Jesus na Egipte te vlug (Matt 2:13–15). Hier bly hulle tot na Herodus se dood sodat Jesus soos Moses ook ‘n eksodus ( = uittog uit Egipte) kan beleef. Die verteller haal soos voorheen weer ‘n Ou-Testamentiese teks aan: ‘Uit Egipte het Ek my seun geroep’ (Hos 11:1). Lees mens ook hierdie teks in die Ou Testament is dit duidelik dat dit nie ‘n direkte voorspelling is nie, maar bloot ‘n verwysing na Israel se uittog uit Egipte: ‘Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.’

Die verteller neem ons nou twee tree terug en vertel van die gebeure in Betlehem nadat die gesin daar weg is (Matt 2:16–18). Herodus het, nadat hy agtergekom het die wyse manne het hom in die steek gelaat, alle seuntjies in en om Betlehem van twee jaar en jonger laat vermoor. Vir ‘n tweede keer roep die verteller dieeksodusverhaal in herinnering. Onthou dat die farao ook die klein seuntjies laat vermoor het (Eks 1:15–16). Die Jesuskarakter van die Matteusevangelie begin almeer na ‘n tweede Moses lyk! Volgens die verteller is hierdie gebeure ook deur ‘n profeet voorspel. Daar staan immers in Jeremia 31:15 ”n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.’ Jeremia het met hierdie ‘profesie’ bloot die gevolge van die Babiloniese ballingskap (587vC) in herinnering geroep. Dit is asof Jeremia vir Ragel (die aartsmoeder van die Judese volk) hoor huil het toe hulle na Babilonië weggevoer is. Matteus maak dit nou op die kindermoord in Behtlehem van toepassing.

In Matteus 2:19–23 neem die verteller ons weer terug. Maar dié keer na Egipte om Jesus se uittog te beleef. Vir ‘n derde keer kommunikeer ‘n engel in ‘n droom met Josef en vertel hom dat Herodus dood is. Hulle kan met geruste harte terugkeer na die land Israel. Die veronderstelling is dus dat Josef en Maria teruggaan na Betlehem , maar op reis daarheen, kry Josef weer ‘n opdrag: ‘Gaan liefs na Galilea en nie na Judea toe nie’ (Matt 2:22). Herodus se seun Herodus Argelaos is in Judea aan bewind en dit kan vir die kind gevare inhou. Die gesin gaan woon dan in Nasaret. Nogal vreemd as mens in aanmerking neem dat Herodus Antipas (Herodus die Grote se ander seun) daar aan bewind was! Waarom sou hý dan nou nie ‘n gevaar vir die kind inhou nie? wonder mens.

Vir ‘n vierde keer is die verteller gereed met ‘n voorspelling uit die Ou Testament om ook hierdie episode met ‘n profesie te onderbou. Hierdie keer tower hy egter een op: ‘Hy sal ‘n Nasarener genoem word, want die profete het so gesê’ (Matt 2:23). Bestudeer mens die Ou-Testamentiese profete noukeurig, vind jy geen teks wat meld dat die messias ook ‘n Nasarener sal wees nie. Die bedoeling met die fiktiewe profesie is om Jesus weer in Nasaret te kry (waar hy na alle waarskynlikheid werklik gebore is). Die skrywer skep dus sy eie voorspelling!

Nou kan Jesus van Nasaret se eintlike lewensverhaal begin (Matt 3–28). Die skrywer het met sy geboorteverhaal (wat sy eie kreatiewe skepping is) drie dinge bereik: (1) Hy het Jesus se geboorte van Nasaret na Betlehem verskuif en so te kenne gegee dat hy ‘n seun van Dawid is. (2) Maar Jesus is nie net ‘n seun van Dawid nie, hy is ook ‘n tweede Moses. Sy lewe as baba was ook bedreig en hy het self ‘n uittog beleef. Jesus word inderwaarheid ‘n tweede Moses, daarom gaan hy ook die berg op wanneer hy die ‘nuwe’ Wet preek (Matteus 5:1–48). Voorts kan ‘n mens duidelik vyf redevoerings in die evangelie onderskei (Matt 5–7, 10, 13, 18, 24–25). Die Matteusevangelie het dus ‘n eie Pentateug. (3) Jesus se verhaal word met die Ou-Testamentiese verhale verbind. Al die gebeure wat tydens sy geboorte plaasgevind het, is volgens die skrywer se oortuiging, deur die profete voorspel — dit geld ook van ander gebeure in sy lewe. Die Matteusevangelie maak baie van sinspelings en voorspellings uit die Ou Testament gebruik, want die skrywer skryf vir Jode en wil hulle oortuig dat Jesus die voorspelde messias is wat God se koninkryk (God se regering) weer sigbaar gemaak het.

Ons kan gerus ons kinders bewus maak van verhale in die Ou Testament wat as model gedien het vir verhale in die Nuwe Testament. Die skrywers van die evangelies het die boustene vir hulle verhale oor Jesus in die Ou Testament gaan haal. Is dit nie maar ook wat alle skrywers doen nie? Hulle gaan ‘leen’ boustof by ouer verhale en skep dan nuwe verhale. Maar na regte is elkeen van ons eintlik besig om ‘n nuwe lewensverhaal te skep. Ons skep ons eie lewensverhale deur terug te gryp na ouer familieverhale en foto’s. Sonder herinneringe kan ons immers nie leef nie. Sonder ons ‘kiekies’ is ons ankerloos. Matteus het vir ons ‘n paar ‘kiekies’ uit Jesus se ‘foto-album’ gehaal en getoon dat hy nie ankerloos was nie.

 

Opgedateer op : Wo 25 Jan 12