MR Byeenkoms: Sondag 18 Februarie 2018
Tydens ‘n interessante Pecha Kucha-sessie bespreek Jaco Budricks, Con Meyer en Johann Basson verskeie publikasies wat onlangs verskyn het, onder die titel: ‘Wat skryf ons mense oor politiek en ekonomie?’
Eerste aan die beurt was Jaco Budricks wat die boek The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era deur twee Russiese skrywers Irina Filatova & Apollon Davidson behandel. Dit is ‘n lywige werk van 700 bladsye met omvangryke inligting.
Irina Filatova wat sedert 1992 in Suid-Afrika woon is tans Professor Emeritus by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Sy is in 1947 in Murmansk gebore en was die hoof van die departement Afrika-studies by die Moskouse Staatsuniversiteit.
Apollon Davidson is in 1929 in Ermakovo, Wes Siberië gebore en in die USSR was hy een van die eerste kundiges van die RSA se geskiedenis. Vele ANC studente het onder sy vaandel by die Lenin Universiteit gestudeer. Hy was ook direkteur van die Sentrum vir Russiese Studies, Universiteit Kaapstad (1994 ̶ 1998). Tans is hy professor van Afrika-studies by die Russiese Wetenskapsakademie.
Jaco vertel dat die 700 bladsye van die boek lig werp op die geskiedenis wat strek van Pieter de Grote se bootbouprojek in Amsterdam (1697) tot die huidige era. Die skrywers openbaar besondere feite rondom die goed-bewaarde geheime verhouding tussen Soviet-Rusland en Suid-Afrika; baie inligting bly egter steeds geklassifiseerd. Hulle breedvoerige kennis van die Russies-Suid-Afrikaanse politiek spruit uit dekades se navorsing oor die onderwerp. In sy aanbieding lys Jaco opsommenderwys die volgende eras ter sprake:
Jan van Riebeeck, Pieter de Grote tot die Krim-oorlog van 1853. (Nota: Peter Alexejevitsj Romanov – bynaam Pieter de Grote; Tsaar van Rusland wat die weermag hervorm, die Ryk uitbrei na Wes-Europa, die wetenskap, kerk, handel en nywerheid vestig en ‘n persoonlike passie vir bote het.)
Russies-Joodse immigrasie na Suid Afrika, veroorsaak deur verskeie pogromme (etniese vervolging en menseslagting) tot 1905.
Rusland en die Anglo-Boereoorlog: Groot ondersteuning van die Russiese publiek. Hier noem Jaco van die Russiese ambulans met sewe dokters en nege verpleegsters wat gestuur is en die hospitaal met 106 beddens by Kroonstad. Ongeveer 225 Russe het aan die kant van die Boere geveg, onder leiding van die Franse kolonel De Villebois-Mareuil met Lt Kol Yevgeny Maximov as sy adjudant.
Die Russiese Revolusie en burgeroorlog; verskeie Suid Afrikaners het vir die Wit Russe geveg. Interessant genoeg het Jan Smuts die Russiese revolusie as die belangrikste gebeurtenis van die Eerste Wêreldoorlog beskryf en die Nasionale Party het aanvanklik sterk aanklank by die Bolsheviste gevind.
1925 tot die begin van die Tweede Wêreldoorlog, die opkoms van die Suid-Afrikaanse Kommuniste en die eerste besoeke aan Moskou.
Die Tweede Wêreldoorlog: Groot ondersteuning vir Rusland se poging kom van ‘n gedeelte van die Suid-Afrikaanse publiek.
Die Koue Oorlog en die Rooi Gevaar: Die Nasionaliste kom aan bewind; die ANC en SAKP beweeg ondergronds.
Die USSR se ondersteuning aan die ANC: Groot ondersteuning word aan die ANC verleen, vele kry opleiding in Moskou, verskeie basisse word in Afrika gevestig.
Perestroika en die winde van verandering: Die val van die USSR was ‘n bitter pil vir die ANC en het dalk indirek gelei tot die nuwe Suid Afrika.
1994 – die nuwe Suid Afrika. Diplomatieke bande word gevestig, nogal met die apartheidsregering, maar die ANC/SAKP was bitter ongelukkig – hulle sien dit as prematuur. Rusland staan egter nie meer so bankvas agter die ANC soos die ou USSR nie; verskeie handelspogings lewer nie veel op nie, behalwe De Beers wat egter goed besigheid gedoen het soos wat hulle reeds vir dekades doen.
Hoe lyk dinge nou: Goeie kulturele bande, maar nie groot handel nie. Jaco noem balletgroepe, simfonie-orkeste en sirkusartieste wat ons gereeld besoek. Russiese bruide doen ook nie te sleg nie. Omtrent 4 000 Russe woon in Suid Afrika. BRICS word gestig om handelsbande te bevorder.
Vervolgens resenseer Con Meyer, wat deesdae in Vleesbaai woon, vir ons twee boeke, naamlik Ferial Haffajee se What if there were no whites in SA en dr Jakkie Cilliers se Fate of the Nation.
Ferial Haffajee het as sogenaamde Kleurling (Indiër/Kaapse Maleier) in die weste van Johannesburg opgegroei. Sy het by Wits in die joernalistiek gegradueer en verskeie redakteursposte beklee. Ook het sy baie gereis en haar kennis algaande verbreed.
Die titel van die boek is effens misleidend. Die outeur skryf eerlik oor die emosies van mense uit die voorheen benadeelde wêreld, maar belig ook waardevolle feite oor die realiteite van die nuwe SA.
Die feit dat blankes ‘n minderheid is, dat die middelklasgroeperings en SA ewe groot is en witrykdomverdeling ‘n geringe effek onder swart armes sou hê, vervaag in die persepsie van wit oorheersing. Dit is as gevolg van die oorweldigende ekonomiese en kulturele krag waarmee witmense steeds die wêreld oorheers.
Die minderwaardigheidsgevoel wat Apartheid se spoor agtergelaat het, moet deur ‘n vorm van regstellende aksie uitgewis word. Regstelling is meer as ‘n gelyke speelveld; dit moet gerigte bevoorregting wees, ‘n proses wat volgens haar nie as omgekeerde rassisme beskou moet word nie.
Onder die baie voorbeelde van agterstande noem sy die gevolge van armoede en swak skoling ̶ praktiese dinge, soos die feit dat swart kinders in teenstelling met wit kinders uit ryk huise nie van kleins af blootgestel word aan die implikasies en die besit van rykmans dinge nie, soos die besit van ‘n motor (goed en sleg), die geleentheid om na skool vir ‘n jaar die wêreld plat te reis en later met die hulp van deposito’s huise van hulle ouers te kry, en dies meer.
Besonder belangrik meld sy die dilemma as studente nie kan inpas en vrede maak met ‘n wit westerse wêreld nie, as die selfvertroue ontbreek om saam te praat en te debatteer, om as toegewyde werker in ‘n goed betalende beroep teruggehou word deur ‘Black Tax’ – die arm familie wat na jou opkyk vir hulp, en beskryf hoe moeilik dit is om as nuwe middelklas werker verantwoordelikheid vir eie versekering, beleggings en spaarplanne te aanvaar.
In die studentestryd om gratis opleiding wys sy op die rol van wit studente soos Markus Trengrove wat by UCT gearresteer is. Hy sê:
“I benefited from the injustice of apartheid. Although I did not choose it, my race, gender, and language have allowed me to inherit certain privileges. The right response is no longer to bury my head in shame. The right response is not to try and guard these privileges. The right reaction is to admit there is an enormous injustice, but my privilege has put me in a good position to remedy it. That is my privilege. That is my duty.”
Maar dan noem sy ook optimistiese uitkyke en dan kom sy tot die logiese slotsom:
“Daar is Wittes en Swartes. Kolonialisme moes nie gebeur het nie, maar dit het. En hier is ons, en ons moet daarmee maak wat ons wil, en ons het. Ons is nie soos Siria of Afghanistan of DRK nie.”
Haar antwoord op die titel se vraag is uiteindelik: Dis nie oor Wittes as sulks nie, maar oor Witheid – maar om ‘n obsessie oor wit mense en witheid te hê verhoed dat ons opbou wat nodig is in SA.
Sy sluit af met ‘n aanhaling van Nelson Mandela: “Dinge lyk onmoontlik tot dit gedoen is.”
Jakkie Cilliers was in die SA Leër Artillerie en het verskeie kere Grensdiens gedoen. In 1988 het hy om politieke redes bedank. Hy stig die ‘Institute for Defence Studies’ wat later die ‘Institute for Security Studies’ geword het en besig is met die ontwikkeling van toekoms-scenarios en hulp vir sosiale verandering. Anders as ‘n voorspelling is ‘n scenario ‘n samehangende storie oor die toekoms, ‘n reeks verbandhoudende moontlike gebeurtenisse. Hy beskryf drie toekoms-scenario’s as volg:
- Bafana Bafana – die waarskynlikste uitkoms, ‘n voortsetting van die huidige; groei 2,3%
- Mandela Magic – die beste uitkoms, ‘n land met ‘n duidelike ekonomiese en ontwikkelingsvisie; groei 3,3%
- Nation Divided – die swakste uitkoms, struweling tussen politieke faksies, populisme, onstabiliteit, hoë inflasie, swak wisselkoers; groei 1,5%
Dié drie scenario’s word elk beskryf volgens die twaalf submodules van die International Futures Forecasting System: demografie, ekonomie, opvoeding, gesondheid, omgewing, energie, infrastruktuur, tegnologie, landbou, regeringbestuur, staatsfinansies en internasionale politiek.
Cilliers se tydlyn gaan tot 2034. Hy sien twee hooffaksies in die ANC: die Tradisionaliste en die Hervormers. Tradisionaliste is hoofsaaklik plattelandse Zoeloes met dr Nkosazana Dlamini-Zuma as leier. Hervormers is sosiaal-demokrate, stedelik, jonger en bestaan uit alle etniese groepe. Dan is daar die populiste in die EFF onder Malema. Hulle is egter ‘n minderheid. Hy toon dat dinge onder al drie scenario’s vir alle Suid Afrikaners verbeter, maar dat die vooruitgang weliswaar swakker is as vir ons eweknieë elders. Die armste 20% van die bevolking (16,3 miljoen) se maandelikse inkomste is R320 per persoon en vir die rykste 20% (6,5 miljoen) is dit sowat R12 500. (Tans lyk dit of ons ten minste wegspring op pad na Mandela Magic toe. Die volgende verkiesings kan ‘n groot rol speel.)
Con noem dat Cilliers die vier grootste uitdagings belig, naamlik Armoede (sowat 9 miljoen mense leef in uiterste armoede); Opvoeding (hoër opleiding lei na groter produktiwiteit, hoër lone en laer fertiliteit); Werkgeleenthede (tans staan werkloosheid op 28%); en Regering (korrupsie moet uitgeskakel word).
Sy voorstelle sluit in dat die ekonomie versnel moet word deur:
- die implementering van die NOP
- fokus op indiensneming ̶ intensiewe groei
- bemagtiging van plattelandse mense en oorplasing van kommuniale grond in individele privaatbesit
- privatisering van staatsondernemings
- regruk van onderwys
- beroepsgerigte onderrig
- gebruik van Engels as die enigste sekondêre en tersiêre onderrigs- en regeringstaal (beslis ‘n betwisbare punt)
Con beveel die boek tog aan as ‘n handige bron van feite wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie.
Laastens behandel Johann Basson ook twee boeke, hoewel hy graag aan ons die Fraser Instituut se 2017 Economic Freedom of the World-verslag wou voorhou.
In sy onlangse boek South Africa can Work ontleed Frans Rautenbach, ‘n advokaat wat in arbeidsreg spesialiseer, Suid Afrika se onlangse ekonomiese prestasie en bevind dat ons ernstig onderpresteer, ook in vergelyking met sekere buurlande.
Hy baseer sy bevindings op ‘n diepgaande literatuurstudie en uitgebreide kwantitatiewe en grafiese analises. Die hoofrede vir onderprestasie, soos die Fraser Instituut van Kanada aantoon, is ‘n gebrek aan ekonomiese vryheid. Die wortel van die probleem is die grootskaalse ‘soeke na rente’ (rentseeking); dit verwys na aksies waar iemand iets verkry sonder om ‘n gepaardgaande inset te lewer. Daaronder lys hy tenderpreneurs, staatskaping, bende-aktiwiteite, arbeidswetgewing en gratis dienste. Dit alles hang saam met ‘n swak werksetiek.
Die beste teenvoeter vir hierdie soeke na onverdiende voordeel is die suiwer gebruik van die vryemark waar vraag en aanbod die pryse bepaal, ook van arbeid. Regstellende aksie bereik nie die beplande doel nie en moet dringend hersien word sodat ons belangrikste probleem van hoë werkloosheid aandag kan kry as ‘n prioriteit.
Werkloosheid word deur onnodige streng arbeidswetgewing veroorsaak. Ons openbare sektor is ver te groot en oneffektief en misbruik hulpbronne wat beter deur die privaatsektor gebruik kan word.
Sy analises wys dat lande met diverse bevolkings die beste resultate met gedesentraliseerde regeringstelsels behaal. Deur bestaande wetgewing in die Grondwet kan talle funksies na Provinsies en Plaaslike Owerhede afgewentel word, terwyl die privaatsektor meer doeltreffend op ‘n kompeterende basis in baie ander dienste kan voorsien. Desentralisering bring besluitneming nader aan kiesers en skep aanspreeklikheid by direk-verkose politici. In dié verband is die voorbeeld van Switserland ontleed.
Die OECD se Life Satisfaction Index toon dat welvaart en nié gelykheid nie, meer belangrik vir menslike geluk is. Dit steun die siening dat SA eerstens op werkloosheid en ekonomiese groei moet fokus, en dan kom gelykheid.
Die skrywer ontleed in detail onderwyssuksesse in ander lande en toon dat die oplossing in desentralisering en sterk deelname van die privaatsektor lê. Dit geld ook vir tersiêre onderrig. Sy ontleding wys op die gevare en mislukkings van gratis onderrig. Hy stel ‘n omvangryke plan van aksie voor, om eers op klein skaal suksesse te behaal en met hierdie bewyse groter veranderings in beleid te motiveer. Voorbeelde is keuses ten opsigte van privaat skole met staatsfinansiering, bekostigbare behuising deur goeie konstruksiemaatskappye wat werk aan werklose mense verskaf en vryemark-sones wat geskep word, almal vrygestel van huidige beleidsbeperkings.
Vervolgens kyk Johann na The Man who Would Be King deur Ray Hartley, die koerantredakteur. Hartley gee ‘n skets van Matamela Cyril Ramaphosa se lewe en prestasies in hierdie boek. Die titel kom van Nelson Mandela se vroeëre siening dat Ramaphosa weldra groot dinge op nasionale vlak sou doen.
Die boek gee ‘n goeie beeld van Ramaphosa se leierskapvermoëns, sy vaardighede in onderhandelings en stratgiese benadering tot sy taak.
Die fokus val op sy jeugjare waar hy van jongsaf ‘n aktivis teen apartheid was, sy opleiding as prokureur, sy aksies as jong vakunieleier, onderhandelaar van die Grondwet, ‘n baie suksesvolle sakeman en later oor sy terugkeer tot die politiek. Die sake word almal deur interessante verhale van insidente en gebeure ondersteun. Dit is hieruit duidelik dat hy ‘n sukses gemaak het van alles wat hy aangepak het.
In die laaste hoofstuk vra Hartley die vraag of Ramaphosa die regte person is om Suid-Afrika se probleme aan te spreek. Hy meld dat sy rekord skoon is en dat hy die regte eienskappe en ondervinding het. Hy meld: “Ramaphosa is walking a tightrope, attempting to use the language of the radical left while proposing a growth-driven vision for the economy. When the time comes for action – such as dealing with government spending or selling off SAA – Ramaphosa will have to decide whether or not he can afford to alienate his support base.”
Uiteraard beveel Johann albei boeke aan as goeie leesstof en bronne van inligting.