Deur: ALMAL
Ons jaarlikse seminaar het vanjaar weer by Weesgerus Vakansie-oord, net buite Modimolle, plaasgevind. Vanjaar was die fokus ons op lewensverstaan en -begrip deur godsdiens en geloof – en gevolglik gedrag – vanuit ‘n neurologiese perspektief te ondersoek. As ons weet waarmee en hoe die brein bedraad is, mag dit makliker wees om te verstaan waarom ons sekere dinge glo (of nie) en watter impak dit op ons lewe het.
Daarbenewens was dit ons oogmerk om die naweek saam met vriende te geniet en so die spreekwoordelike pitkos én padkos te kry om sinvol saam mens en medemens in ‘n land van vele godsdienste en gelowe te wees.
Prof Chris Steinmann was ons gasspreker vir die seminaar. Proff Pieter Craffert en Freddie Crous het saam met hom die onderwerp deurgetrap. Prof Steinmann was dosent in Fisiologie aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria en het ‘n groot belangstelling (en kennis) van die menslike brein. Die program het ruim geleentheid gebied vir besprekings, saamkuier en saamgesels en het bygedra dat elkeen se begrip en perspektiewe vir groter sin aan die lewe kon verbreed. Die onderwerpe en gespreksleiers vir die naweek was soos volg:
- Jy en jou brein – ‘n fisiologiese fundering vir geloofsoortuigings – Chris Steinman
Gode, geeste en geloofsgenesers.Waarom glo mense daaraan? – Pieter Craffert
Die beliggaamde brein: implikasies vir geloof – Freddie Crous
Groepbespreking – Almal