Deur: CHRIS STEINMAN

Ons jaarlikse seminaar het vanjaar weer by Weesgerus Vakansie-oord, net buite Modimolle, plaasgevind. Vanjaar was die fokus ons op lewensverstaan en –begrip deur godsdiens en geloof – en gevolglik gedrag – vanuit ‘n neurologiese perspektief te ondersoek. As ons weet waarmee en hoe die brein bedraad is, mag dit makliker wees om te verstaan waarom glo ons sekere dinge (nie) en watter impak dit op ons lewe het.

Daarbenewens was die oogmerk om die naweek saam met vriende te geniet en so die spreekwoordelike pitkos én padkos te kry om sinvol mens en medemens te wees binne ‘n land van vele godsdienste en gelowe.

Prof Chris Steinmann was ons gasspreker vir die seminaar. Proff Pieter Craffert en Freddie Crous het saam met hom die onderwerp deurgetrap. Prof Steinmann was dosent in Fisiologie aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria en het ‘n groot belangstelling (en kennis) van die menslike brein. Die program het ruim geleentheid vir besprekings, saamkuier en saamgesels gebied en het bygedra dat elkeen sy/haar begrip en perspektiewe vir groter sin aan die lewe sal kon verbreed. Die onderwerpe en gespreksleiers vir die naweek was soos volg:

  •  Jy en jou brein – ‘n fisiologiese fundering vir geloofsoortuigings – Chris Steinman
    Gode, geeste en geloofsgenesers.Waarom glo mense daaraan? – Pieter Craffert
    Die beliggaamde brein: implikasies vir geloof – Freddie Crous
    Groepbespreking – Almal