Kalender – Komende Gebeure

19 Januarie 2025 - Prof. Sakkie Spangenberg

Die eerste byeenkoms van die jaar gaan ‘n Jaarvergadering wees.

Daarna, ‘n kort lesing deur Sakkie Spangenberg getiteld:

Breyten, Boerneef, die Bybel en ons

Wat ek gaan aanbied, is ’n kort vertelling van my bewuswording van Breyten Breytenbach se digkuns en hoe dit my na sy afsterwe weer getref het dat van sy gedigte woorde en frases bevat wat duidelik toespelings bevat op Bybelgedeeltes. Neem as voorbeeld die gedig “ek sal sterf en na my vader gaan” wat die digter Antjie Krog voorgedra het tydens haar huldiging van hom op die Afrikaanse radiodiens RSG die dag na sy afsterwe. Hierdie gedig bevat ’n onmiskenbare toespeling op die gelykenis van die Verlore Seun (Luk 15:11–32). Hierdie gedig is (danksy ’n vroeëre opname) deur Breyten self voorgedra tydens die Boeddhistiese afskeidseremonie in die kapel van die Paryse begraafplaas op 3 Desember.

Ek gaan fokus op die boeke Prediker en Hooglied omdat Breyten se gedigte, na my mening, ook toespelings daarop bevat. Ek sal afsluit met ’n kort besinning oor Breyten se omgang met enkele identiteitsmerkers (velkleur, taal en kultuur). Dalk is daar iets uit sy lewe en gedigte te leer.

 

YouTube Video: www.youtube.com/watch?v=jGtrg_noh0s

16 Februarie 2025 - Willem Semmelink

Hoe gemaak met godsdienstige feesdae?

As jy ontnugter raak in geloof, is religieuse feesdae skielik ’n hengse probleem. Ons voel nie meer dieselfde oor dae soos Pase of Kersdag nie. Jy is nie ’n kerkganger nie. Jy sien dalk nie meer jouself as religieus nie. Jy sê dalk in die openbaar jy is nie ’n Christen nie. Maar by ons in die Herfs of verder Noord in hulle Lente, is daar ’n Sondag wat Christene tradisioneel Jesus se opstanding vier. En jy word soms by religieuse feestelikheid betrek. Dalk wil jou gesin die Goeie Vrydag diens of die Kersdiens bywoon. Dalk kom die familie by­me­kaar. Maar as jy in godsdiens ontnugter raak, is die soort feeste vir jou ’n bederf. Een benadering is die ontken-patroon, om te ontken dat sulke dae waarde het. Maar as jy sulke dae uit jou lewe sny, word jy ’n buitestander buite jou familie en geliefdes se feestelikheid. Dit kan persepsies vorm van jouself as ’n suurknol of pretbederwer, en by geliefdes negatiewe persepsies en herinneringe van nie-geloof vorm. Ons het ’n ander benadering nodig.

 YouTube video: www.youtube.com/watch?v=ToXOdTGR_Bk

16 Maart 2025 - Prof. Hansie Wolmarans

Don Cupitt: ’n Profeet Sonder Eer

My persoonlike ervaring van kerklike leiers is dat hulle oor die algemeen onverdraagsaam is. Daar is ‘n sterk fokus op die verlede in plaas van die toekoms. Hulle is gewoonlik ingeteeld in hulle denke, en wantrouig teenoor intellektualisme. As gevolg hiervan was Don Cupitt binne die kerk ’n profeet sonder eer.

Hierdie Cambridge godsdiensfilosoof en eertydse Anglikaanse priester, is op 18 Januarie 2025 in die ouderdom van negentig jaar oorlede. In sy publikasies redeneer hy dat die Christendom ’n ernstige intellektuele krisis beleef. Bonatuurlike wesens soos God en engele, asook plekke soos die hemel en die hel, en idees soos ’n lewe na die dood, bestaan nie werklik nie. Hierdie begrippe behoort eerder as simbole en metafore verstaan te word. God is ’n oorkoepelende metafoor vir dit wat mooi en goed is. As sulks kan dit mense help om sin te gee aan hulle lewens.

’n Spiritualiteit gekenmerk deur mededeelsaamheid, verdraagsaamheid, aanvaarding, en gasvryheid sonder om ’n hiernamaalse beloning te verwag, is eg. Cupitt moedig ons aan om die lewe hier-en-nou te omhels, outentiek te leef, en oomblik vir oomblik die prag en wonder van die lewe te vier.

 Uitdeelstuk:

  1. Godsbeskouing

“I continue to speak of God and to pray to God. God is the mythical embodiment of all that one is concerned with in the spiritual life. God is the religious demand and ideal, the pearl of great price and the enshriner of values. He is needed – but as a myth.” (Taking Leave of God)

“The more God is absolutised, the more we are presented with the possibility of living under the dominion of a cosmic tyrant who will allow nothing, and least of all religion, to change and develop…” (Taking Leave of God)

  1. Jesusbeskouing

“Jesus het gesê: ‘Indien julle leiers sê: kyk, die Koninkryk is in die hemel, dan sal die voëls van die hemel julle vóór wees; indien hulle vir julle sê: kyk, dit is in die see, dan sal die visse julle vóór wees. Nee. Die Koninkryk is in julle binneste en julle buitenste.’”(Evangelie van Thomas, logion 3)

  1. Godsdiensbeskouing

It is “… about equipping people for life in a state society by teaching them how to sublimate raw biological impulses into socially-preferable cool and universal dispositions—for example when we reason people into converting the impulse to seek sudden and violent revenge into the cool passion for universal justice; or when we learn to sublimate anxiety into vigilance in caring for and maintaining social institutions of every kind.” [The Way to Happiness, 2003:77].

  1. Alledaagse Taalgebruik
  2. Carpe Diem.
  3. Ons het net een lewe (YOLO).
  4. Leef en laat leef.
  5. Dit is wat dit is.
  6. Elke donker wolk het ʼn silwer randjie.
  7. Maak die beste van ʼn slegte saak.
  8. Die dag toe hy met my getroud is, het hy sy hande Kanaän belowe.
  9. Vandat sy met my getroud is, het sy hemel op aarde.
  10. Ek hoop en bid jy is reg.
  11. Sy offer haar lewe op vir haar gesin.

 

YouTube video: www.youtube.com/watch?v=TsIrE-L7kKY

Lesing in PDF-formaat

13 April 2025 - Prof. Marlize Lombard

Prof. Marlize Lombard – Universiteit van Johannesburg

Middel Steentydperk-boogjag en die vorming van die Homo sapiens brein

Hierdie praatjie is ‘n reis na die diep verlede van die menslike brein in Suid Afrika. Vandag verander tegnologie soos selfone, rekenaars, rekenaarspeletjies en sosiale media ons gedrag, asook ons breinstrukture en konneksies. Daar is geen rede om te dink dat dit anders was in die verlede nie.

Die oudste bewyse vir boogjag, so tussen 80 en 60 duisend jaar gelede, kom uit Suid Afrika. Ek ondersoek ‘n moontlike verband tussen die evolusie van die menslike brein, soos wat ons dit vandag ken, en komplekse, twee-handige boogjagtegnologie. Om dit te kan doen, kyk ek onder andere na elektro-neurologiese inligting verkry van die breine van moderne boogskutters en die evolusie van die precuneus. Laasgenoemde is ‘n breinarea wat ons vandag toelaat om komplekse twee-handige aktiwiteite uit te voer (soos klavierspeel), en om bewustelik oordeelkundig te werk met bewegende voorwerpe op ‘n afstand (soos motorbestuur).

Onlangse genoomnavorsing laat ons ook toe om neurogenetiese inligting te gebruik om te spekuleer oor verskille tussen Homo sapiens, Neandertal en Dinisovan denkwyses. Binne hierdie konteks, ondersoek ek gene wat betrekking het op ‘aandag’, omdat die vermoë om bewustelik en oordeelkundig aandag te kan gee, krities is vir suksesvolle boogjag – en soveel ander dinge wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar. Vir meer inligting, sien gerus:

www.researchgate.net/publication/383919981_How_ancient_bowhunting_technology_developed_focused_human_attention

YouTube video: youtube.com/watch?v=uQygCvdT-i4

5 - 7 Mei 2025 - NHN Kamp

Ons het verlede jaar gedurende Mei ons eerste NHN kamp aangebied. Daar was baie versoeke om dit hierdie jaar weer te doen en ons voldoen graag.

Die beplande tyd en plek is Maandag 5 Mei tot Woensdag 7 Mei by Dinokeng Camp and Leisure (DC&L). Daar sal beide kampeerplek en chalets beskikbaar wees.

Daar is net ses chalets, so dit is belangrik dat diegene wat in chalets wil bly, dit so gou moontlik bespreek. Doen asseblief julle eie besprekings en deposito betalings by DC&L. Noem dat julle saam met NHN kom sodat ons naby aan mekaar geplaas kan word.

Meer inligting oor DC&L en die verblyf kan by dinokengcl.co.za/#Accommodation gevind word.

Die vorige keer was ‘n fees; teken dit sommer nou al in jou dagboek aan!

Rig navrae aan Leon Stander by 0764490631.

18 Mei 2025 - Prof. Pieter Botha

Historiese Jesus ondersoek in Suid-Afrika (’n gesprek met Andries van Aarde se bydrae)

In die 19de eeu, samehangend met ’n groeiende historiese bewussyn, het Europese geleerdes die Bybel begin ontleed met die oog op akkurate geskiedskrywing. Een van die uitlopers hiervan was die onderskeid tussen die Jesus van die kerk (en teologie) en die historiese Jesus. Die navorsing oor die historiese Jesus het mettertyd as ’n baie sterk dissipline in sigself ontwikkel, en ’n hoogbloei beleef laat in die 20ste eeu (en nog steeds). In Suid-Afrika het die historiese Jesus nooit eintlik aftrek gekry nie. Redes hiervoor het (waarskynlik) te doen met ’n swak ontwikkelde historiese bewussyn, die groot rol wat heilsgeskiedenis in Afrikaanse teologie speel, die sukses van evangeliese “sieligheid” in populêre godsdiens, asook die hiërargiese gesaghebbendheid wat baie van ons se lewensuitkyk bepaal. Die meeste Suid-Afrikaanse studies oor die historiese Jesus is eintlik net afwysende verslae met die klem op die irrelevansie van sulke ondersoeke. Daar was egter uitsonderings, soos Jesus die sjamaan (Craffert), en Jesus die Joodse rebel (Botha). In die lig van Andries van Aarde se onlangse afsterwe en die massiewe rol wat hy in Suid-Afrikaanse Nuwe Testament wetenskap gespeel het sal ek egter aandag gee aan sy Jesus die weeskind, maar ook lyne trek na sy sieninge in verband met die vroeë kerk en die rol van Paulus in die ontstaan van die Christelike godsdiens.

YouTube video: youtube.com/watch?v=iHjZCnL1iBk

22 Junie 2025 - Prof. Dries Engelbrecht

“Invented Afterlives” – vergesogte beloftes oor lewe na die dood in hoofstroom Abrahamiese en ander godsdienste, en die implikasies hierdie ideologiëe vir die moderne wêreld.

In dié lesing gee Prof. Dries Engelbrecht ‘n opsomming van sy boek. Dit bied ’n omvattende oorsig van die godsdienstige konsep van “’n hiernamaals.” Dries beskryf en vergelyk hierin die hiernamaals-ideologieë van die groot kontemporêre godsdienste op die planeet, en sommige historiese godsdienste. Die ontwikkeling van die hiernamaals-ideologieë oor die eeue en binne godsdienste word beskryf, en uitgewys vir die absurditeite wat dit is.

Hierdie godsdienste vermaan die mensdom om hulle kort aardse lewens op só ’n wyse te lei dat hulle ’n goeie lewe na die dood sal kan beleef. Maar is dit ’n redelike manier om ons lewens te leef? Dit leer ook dat die hel die hiernamaals bestemming van die meeste van die mensdom sal wees. Slegs ’n klein aantal mense wat die sogenaamde nou paadjie gevolg het, sal die hemel binnegaan.

Alternatiewelik volg Oosterse godsdienste, wat in hierdie boek bespreek word, insluitend Hindoeïsme, Sikhisme en Boeddhisme, die idee van reïnkarnasie. Hierdie proses begin van laer lewensvorme soos insekte en ander diere, tot ’n paar rondtes in menslike vorm. Alles vorder van ’n lae na ’n hoë sosiale status of kaste en kulmineer in ’n onbaatsugtige en vreedsame toestand genaamd “moksha” of “nirvana”. Laasgenoemde het baie in gemeen met die normale konsep van die ’n hemel.

Meer vrae wat in hierdie boek gevra word, is: Is daar enige oortuigende bewyse vir ’n hiernamaalse lewe? Is dit nie maar net pure fantasieë nie? Is ’n bestaan waarin miljarde mense in die hel brand, ’n etiese aanvaarbare siening oor ’n god en sy uitgesoekte menslike volgelinge? Hoe beïnvloed hierdie ideologieë mense en hulle politiek? Watter soort aktiwiteite sal waarskynlik in die hiernamaals plaasvind, en wat sal byvoorbeeld die doel van seks in die hiernamaals wees (soos voorgehou deur sekere godsdienste). Of sal die hiernamaals slegs bestaan uit lofprysing van ’n godheid? Is dit ’n sinvolle manier van bestaan? As daar geen goeie bewyse vir ’n hiernamaals is nie, maak dit sin om te lewe in die nastrewing daarvan?

Hierdie boek is ’n belangrike kritiek op ’n universele aanspraak van byna elke godsdiens op die planeet. As hiernamaalse ideologieë inderdaad absurd en onwaar is, het dit implikasies vir hoe mense kies om hulle lewens te lei en hoe hulle hul enigste bewoonbare planeet bewaar.

Hierdie boek is ook uniek in die genre van kritiek op godsdiens, deurdat dit beide die Abrahamitiese godsdienste (met hulle hemel-hel-dualiteit) en Oosterse godsdienste (met hulle ideologie van samsara en reïnkarnasie) beoordeel.

Die boek kan bestel word by: https://amzn.to/4hH1OJt of by https://naledi.co.za/product/invented…

YouTube video: youtube.com/watch?v=vAxThRUbsWo

27 Julie 2025 - Prof. Alex van den Heever

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) – heil of onheil?

Prof. Alex van den Heever is verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy is ‘n ekonoom en sal oor die Nasionale Gesondheidversekering (NHI) praat. Hy is ‘n kenner daaroor en het krities daaroor gereageer in ‘n reeks onderhoude op Marié Hudson se radio-rubliek, “Gesondheid op RSG”. 

 

17 Augustus 2025 - Dr Lindie Koorts

Dr Lindie Koorts, ‘n historikus van die Universiteit van Pretoria, se lesing is getiteld: “Noem die kind by die naam.” Dit handel oor die viering van die 100-jarige erkenning van Afrikaans wat vanjaar gevier word. Is daar net een vorm van Afrikaans en het Afrikaans slegs onder die mense uit Europa wat hulle in Suid-Afrika kom vestig het, ontstaan? Waar het hierdie taal sy oorsprong, of moet ons praat van oorspronge? Is Afrikaans ’n kreoolse taal?

YouTube video: youtube.com/watch?v=oUCpZyVtfWA

 

21 September 2025 - Prof. Francois Durand

Die vlugtige aard van idees

Dit gaan oor die kwesbaarheid van kennis en hoe vinnig eeue se inligting van bv. die Biblioteek van Alexandria, of die Huis van Wonders van Bagdad in ‘n ommesientjie uitgewis kan word – en die gevolg van hierdie verlies van die vloei van inligting van een geslag na die ander.  Ek gaan ook ‘n draai deur Gobekli Tepe, Rapa Nui (Easter Island), Germanië, Skandinawië, Egipte en Rome gooi.

YouTube video: www.youtube.com/watch?v=4vhVTgLI82Q

26 Oktober 2025 - Prof. Basie von Solms

KUNSMATIGE INTELLIGENSIE: VOOR– EN NADELE

Die aanbieding beoog om kortliks en oorsigtelik die tegnologie van Kunsmatige Intelligensie
(KI) te bekyk. Daar sal veral bespiegel word oor die huidige verstaan van korttermyn- en
langtermyn risikos asook voor- en nadele van KI vir die gewone burgers.

Die spreker se gevolgtrekking sal wees dat die direkte korttermyn-nadele, impak en risikos
van KI tans (baie) meer is die direkte voordele. Die gevolgtrekking sal gemotiveer word deur
die uitsprake van kundiges op die verskillende relevante impakgebiede.

23 November 2025 - Jan Horn

Dit is die laaste byeenkoms van die jaar waartydens Jan Horn ‘n filmvertoning gaan aanbied van sommige van sy werke. Ons gaan daarna die jaar afsluit met ‘n ete.

Die plek waar dit gaan plaasvind sal later aangekondig word.

 

25 Januarie 2026 - Arno Webb

Arno gaan oor die Israel-Palestynse probleem praat. 

 

15 Februarie 2026 - Prof. Jo-Ansie van Wyk

 Tema: Jan Smuts en die atoombom

 

22 Maart 2026 - Prof. Marlize Lombard

 Tema: Steentyd Boesmans en Shamanisme

 

Lesings word maandeliks aangebied by Midstream se Rolbal Klubhuis.

Ons vergader vanaf 9:30 en die lesing begin om 10:00 en duur gewoonlik ‘n uur met tyd vir vrae en besprekings daarna. Na die lesing verkeer ons  gesellig saam en besoekers word uitgenooi om saam te kuier.